Gesoute musikant betree die voorgrond

Oud-Bethlehemiet Alouise Peens het in April haar debuut as solokunstenaar gemaak met die akoestiese ‘Dis Jy’ en ’n video hiervoor.

Oud-Bethlehemiet Alouise Peens, wie se eerste enkelsnit onlangs uitgereik is. Ná 13 jaar se betrokkenheid in die musiekbedryf op velerlei ander terreine, neem sy dié groot tree in die rigting van ’n sololoopbaan.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Oud-Bethlehemiet en musikant Alouise Peens het in April haar debuut as solokunstenaar gemaak met die akoestiese snit “Dis Jy” en ’n musiekvideo hiervoor.

Sy sê dié liedjie het sy tydens die Covid-19-inperking geskryf, en die inspirasie het gekom deur die wêreld se gebruik van die sosiale media en hoe mense daarop staatgemaak het om aan mekaar verbind te voel.

Die snit is op 14 April amptelik bekendgestel.

“Die liedjie handel oor die verlange wat ek ervaar het toe ek tydens die inperking nie by my geliefdes kon wees nie, en ek jaloers was op almal wat by hul geliefdes kon wees,” sê Alouise.

“Ons moet nooit die alledaagse goed soos om saam met geliefdes te wees as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Sy reken dat dit haar geliefde hondjie Logic en haar kitaar is wat haar deur die pandemie gedra het.

“Wanneer mense na ‘Dis Jy’ luister, moet hulle dink aan spesiale tye saam met geliefdes, en die TikTok-video’s en Instagram-inskrywings wat hulle saam met geliefdes gemaak het.”

Alouise, ook ’n sakevrou met ’n aanlyn onderneming, is boonop ’n kranige fietsryer wat die Cape Argus-fietstoer al tien keer voltooi het.

Sy kom uit ’n baie musikale familie en kan ’n verskeidenheid instrumente, insluitend die tromme, baskitaar, elektriese kitaar, akoestiese kitaar, ukelele en klavier, bespeel.

Dié multi-instrumentalis het grootgeword onder die klavier van haar ma, Jeanette Jacobs – ’n musiekonderwyser van Bethlehem. Daar het haar liefde vir musiek vlamgevat.

Sy is reeds die afgelope 13 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf betrokke, hoewel sy nou eers die voorgrond met haar enkelsnit betree.

Alouise is die baskitaarspeler vir Bok van Blerk en het al saam met groot name in die bedryf soos Lize Beekman, Karen Zoid, Christa Steyn, Laurika Rauch, Sara Bareilles en Onbeskaamd gewerk.

Dié kunstenaar is passievol oor bewusmaking rondom geestesgesondheids­probleme en wil help om die stigma in verband met die onderwerp te verbreek sodat mense makliker en meer openlik daaroor gesels.

“Dis Jy” kan op YouTube geluister word, asook op musiekstromingsdienste soos Spotify en deur Alouise se sosialemediaprofiele.

You need to be Logged In to leave a comment.