Die rioolaanleg in Kroonstad, wat in opdrag van adjunkpresident David Mabuza teen 15 Desember verlede jaar herstel moes wees, is weer onklaar.
Nadat die regering R13 miljoen vir die herstelwerk beskikbaar gestel het, is spertye keer op keer deur die aangestelde kontrakteur misgeloop.
Die aanleg wat nie werk nie, gekombineer met verouderde infrastruktuur en gebrekkige instandhouding, veroorsaak enorme barste in rioolpypleidings oral in Kroonstad.
Riool wat vrylik in die dorp vloei, rig groot skade aan en beland eindelik in die Valsrivier.
VrystaatKroon het verneem van geboue waarvan die fondament wegsak, sypaadjies wat meegee en riool wat in die stormwaterstelsel beland.
“Ons het reeds verskeie sake teen die Moqhaka-munisipaliteit by die polisie laat open oor die voortslepende rioolkwessies in Kroonstad,” sê Spiro Khoury, sakeman van die dorp.
“Met die Valke se besoek aan die munisipaliteit Vrydag (19/08) het ons dit onder hul aandag gebring.”
Persele van Khoury en ander eienaars van sakeondernemings in Kroonstad is van die riool deurdrenk en groot struktuurskade is aangerig.
Chris Dalton, DA-raadslid, het die aanleg Maandag besoek. Hy sê dit is in werking, hoewel nie op volle kapasiteit nie.
In hierdie stadium is daar niemand om onderhoudswerk te doen nie, sê Dalton. Daar word beoog om binne die volgende twee weke ’n vergadering te belê om aanstellings hiervoor te doen.
VrystaatKroon het Maandag verneem dat pompe by die aanleg onklaar is, of nie reg werk nie, en dat chloor gebruik word wat blykbaar nie vir rioolaanlegte geskik is nie.
Dika Kheswa, woordvoerder vir die Moqhaka-munisipaliteit, sê die rioolaanleg bied verskeie uitdagings, wat ’n geweldige invloed op die rioolsituasie het.