“Ek het reeds kort ná skool begin bloed skenk, en dit was vir my belangrik omdat ek geweet het ek kan op só ’n manier ’n verskil in my medemens se lewe maak,” sê Annette van Rensburg (74) van Kroonstad.
Sedert 1992 het Annette reeds 204 eenhede bloed by die SANBS se skenkersentrum in Kroonstad geskenk, en sy doen nog gereeld hier skenkings.
Sy moedig lede van die publiek aan om bloed te skenk, veral daarmee in gedagte dat een eenheid bloed tot drie mense se lewe kan red.
Annette se man, Esias van Rensburg, was die dryfkrag daaragter dat sy hele gesin aangemoedig is om bloed te skenk.
Hy was egter in ’n ongeluk betrokke en kon daarna nie weer skenk nie.
Die egpaar se twee seuns, Schalk en Sias, volg hul ouers se voorbeeld en skenk gereeld bloed.
“Ek sal gesinne beslis aanmoedig om saam bloed te skenk,” sê Annette.
“Dit is lekker om te weet dat ons as gesin se bydraes lewens kan red.”
Besoek die SANBS in Kroonstad in die Checkers-sentrum, Noordweg.
Skakel 0800-119-031 vir meer inligting oor die SANBS en bloedskenking.