Die twee vermeende moordenaars van Gert Burger (65) van Kroonstad, wat in Februarie 2019, wreed vermoor is, is op Donderdag, 28 November swaar vir die moord op Burger gevonnis. Foto:


Familie van die vermoorde Gert Burger (65) van Kroonstad, wie se twee moordenaars verlede week gevonnis is, is verlig dat reg en geregtigheid geskied het.

Pheello Rakaki (24) is op Donderdag 28 November in die rondgaande hooggeregshof in Kroonstad lewenslank gevonnis, met ’n bykomende 25 jaar op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Sy medebeskuldigde, Antony Tsopo (21), is tot 25 jaar gevonnis vir moord, met nog tien jaar vir roof met verswarende omstandighede.

“Dit is vir ons ’n baie groot verligting dat reg en geregtigheid vir die moord op my pa geskied het. Ons gebede is verhoor, en dit is slegs genade van bo dat die moordenaars gevang en gestraf is,” sê Linette Erasmus.

Erasmus is Burger se dogter. Sy woon sedert Januarie met haar gesin in Australië.

Sy het verder gesê hulle as familie is opreg dankbaar vir die handjievol mense wat nie moed opgegee het nie en hul werk met passie en deernis gedoen het om te verseker dat die moordenaars toegesluit word.

Burger, ’n pensioentrekker, is in Februarie 2019 by sy huis in Reitzstraat, Kroonstad, vermoor.

Die moordenaars het hom die Saterdagoggend in sy motorhuis ingewag.

Burger was die oggend vroeg dorp toe vir inkopies en om medisyne vir sy bedlêende vrou, Martie, te kry. Sy is die vorige dag uit die hospitaal ontslaan.

Nadat hy sy motor by die huis parkeer het, het Rakaki en Tsopo hom oorval en is hy met ’n hamer doodgeslaan. Sy lyk is in ’n seil toegedraai en in die motorhuis gelaat.

Nadat hy sy motor by die huis parkeer het, het Rakaki en Tsopo hom oorval en is hy met ’n hamer doodgeslaan. Sy lyk is in ’n seil toegedraai en in die motorhuis gelaat.

Een van die moordenaars het die huis in gegaan waar Martie gelê en slaap het. Hulle het die ander voertuig in die motorhuis se sleutel geneem en een van hulle het per ongeluk die paniekknoppie gedruk. Hulle het vermoedelik gedink dat dit die voertuig in die motorhuis se alarm sou deaktiveer.

Die sekuriteitsfirma, asook Erasmus, het daarop reageer en op die moordtoneel afgekom.

Destyds het VrystaatKroon berig dat die polisie bevestig het die moord is deeglik deur die beskuldigdes beplan.

“In Augustus 2019 is die saak van die rol geskrap, maar danksy ’n goeie regspan, die polisie se optrede en genoegsame bewyse kon die saak voortgaan. Anders het twee moordenaars vandag nog skotvry geloop,” sê Erasmus.

Martie is kort ná die moord, op haar 74ste verjaardag, oorlede.

You need to be Logged In to leave a comment.