Om voortdurend aan geraas blootgestel te word, het ’n groter invloed op ’n mens se gesondheid as wat besef word.
Internasionale Geraasbewustheidsdag vind jaarliks op die laaste Woensdag in April plaas met die doel om bewustheid te skep rondom die skadelike uitwerking van geraas op gehoor, gesondheid en lewensgehalte, en om positiewe optrede in jou gemeenskap aan te spoor met die boodskap: “Beskerm jou gehoor; beskerm jou gesondheid.”
Hoe hard is te hard?
Klank word in desibel (db) gemeet; hoe hoër die db hoe meer kan die geraas ’n mens se gehoor beskadig. ’n Stil kamer word op 40 db geplaas, maar ’n geweerskoot of vliegtuig wat opstyg, meet ongeveer 140 dB, wat onmiddellike gehoorskade veroorsaak.
Geraas is voortdurend om ons, en deur te verstaan wat geraas is en hoe om dit te vermy, kan ons ons gehoor beskerm.
Werkplek
Persone in beroepe soos brandbestryding, polisie- en militêre dienste, fabriekswerkers, boerdery, konstruksie, nywerhede, en meer, werk almal in ’n raserige omgewing. Selfs persone in kantoorgeboue word blootgestel aan fone wat lui, die aanhoudende gedreun van rekenaars, lugversorgers en waaiers. Dit alles veroorsaak irritasie en verhoogde stresgeraas. Geraas in die werkplek hou ’n veiligheidsrisiko in deurdat dit konsentrasie verminder en die moontlikheid van beserings aan diens kan verhoog.
Gimnasiums en sportgeriewe
’n Studie deur Raymond H. Hull, Ph.D. (1991) het bevind dat 80% van gesondheidsklubs aanhoudend musiek speel wat 105 db oor periodes van een uur oorskry. Daarmee saam was die intensiteit van die instrukteur se stem, met behulp van ’n sender, gemiddeld 5 db bo daardie vlak. Die geraas van gimnasiumtoerusting en algemene gesprekvoering kan ook hierby gevoeg word.
Musiekkonserte en teaters
Die gemiddelde geraasvlak by musiekkonserte is 120 db met ’n risiko van gehoorverlies ná net sewe minute. Baie musikante ervaar gehoorverlies ná ’n leeftyd van konserte en gereelde blootstelling aan uiters harde geraas.
Winkelsentrums
Dié openbare ruimtes is ’n teelaarde vir gehoorverlies. Dit sluit in geraas van mense en inkopietrollies wat oor die teëlvloere beweeg, ’n aanhoudende gedreun van stemme en mense wat lag, musiek vanaf die oorhoofse klankstelsel, individuele winkels met hul eie musiek of radio, die klank van breekware en eetgerei in ’n oop restaurant, en kelners wat bevele na die kombuis skree.
Voertuiggeraas
Baie mense ry met musiek in die motor, soms op so ’n hoë volume dat dit duidelik deur voetgangers gehoor kan word. Ook in spitsverkeer is die geluid van motorenjins van binne en buite die motor, baie hoog.
Dit maak dat ons die musiekvolume verhoog, en al kan ons soms net die musiek bo die geraas van buite hoor, het hierdie elemente gekombineer die potensiaal om skade aan ’n mens se gehoor te veroorsaak.
Wat kan gedoen word?
Beweeg verder weg van luidsprekers indien moontlik.
Dra voldoende gehoorbeskerming; ’n verskeidenheid daarvan is beskikbaar.
Wanneer jy oorfone gebruik, speel die musiek op veilige luistervlakke. As jy nie ander mense kan hoor praat wanneer jy die oorfone dra nie of as ander mense vir jou moet skree om op ’n meter weg gehoor te word terwyl die oorfone in gebruik is, is dit te hard. Hierdie reël is van toepassing op in-die-oor oorfone.
Beperk die hoeveelheid tyd wat jy in lawaaierige omgewings deurbring.
Besoek International Noise Awareness Day vir meer inligting.
– Dorothy-Anne Howitson, sekretaris Vereniging vir en van Persone met Gestremdhede – Frances Baard-distrik.