Die afgelope beurtkraglose weke wat burgers ervaar is regtig ’n verligting. Geen geskarrel om rekenaars en selfone vol te laai vir ingeval die kragloosheid hulle oorval nie. Daar heers ’n rustigheid in die algemene werksvloei en dit voel amper of jy ’n nuwe ritme moet vind want daar is nou net té veel krag.
Geen klagtes nie; slegs diepe dankbaarheid.
Die skielike wending in geen beurtkrag het heel waarskynlik met die verkiesing van volgende maand te doen. Daar word nou naarstigtelik na strooi halms gegryp om die sinkende skip waarin Suid-Afrika bevind word, te probeer red.
Is daar ’n moontlikheid dat die Veelpartyhandves (VPH) wat onderskeidellik uit die Demokratiese Alliansie (DA), Inkatha-Vryheidsparty (IVP), Vryheidsfront Plus (VF Plus), ActionSA, Independent South African National Civic Organisation (ISANCO), United Independent Movement (UIM) en Spectrum National Party (SNP) bestaan, die verkiesing kan wen? Gaan hulle die wa deur die drif kan trek en Suid Afrika red?
Een ding is wel seker: die uitslae van vanjaar se verkiesing gaan ’n totale ander wending neem as enige van die vorige verkiesings in die afgelope 30 jaar. ’n Koalisieregering is heel moonlik Suid-Afrika voorland. Terwyl daar met inspanning gewag word om te sien wat by die stembusse gaan plaasvind, omarm Suid-Afrikaners die geen-beurtkrag-weke ten volle.