Chris Bender, voorsitter van die OVK-groep het ‘n gemeenskapsvergadering in Clocolan, met belanghebbendes saamgeroep om die krisis rakende die lewensgevaarlike R708-pad te bespreek
Chris Bender, voorsitter van die OVK-groep het ‘n gemeenskapsvergadering in Clocolan, met belanghebbendes saamgeroep om die krisis rakende die gevaarlike R708-pad te bespreek

Die Clocolan- en Marquard-gemeenskappe is keelvol vir die gehawende toestand van die R708-pad en die gesloer met die herstelwerk aan die roete.

Hulle dreig met ‘n algehele padsluiting, omdat owerhede glo nie die ernstigheid rakende die herstelwerk aan die pad besef nie.    

Tydens ‘n vergadering op Dinsdag 8 Julie in Clocolan het die Clocolan-landbouvereniging, plaaslike taxibedryf en sakeondernemings ‘n formele kennisgewing uitgereik oor die beplande sluiting van die roete.

Die drastiese optrede volg op die jarelange onsuksesvolle pogings om regeringsowerhede te betrek by die talle vergaderings, skriftelike voorleggings en appèlle rakende die herstelwerk.

Chris Bender, voorsitter van die OVK-groep het die gemeenskapsvergadering in Clocolan met belanghebbendes saamgeroep om die krisis te bespreek. Bender sê die toestand van die pad hou ‘n ernstige bedreiging vir openbare veiligheid in en het gelei tot aansienlike ekonomiese en logistieke probleme.

“Die R708 is van kardinale belang vir die landelike ekonomie. Dit dien as ‘n belangrike vervoerroete vanaf die Oos-Kaap en Maseru na die myne, en is noodsaaklik vir die beweging van landbougoedere – insluitend deur die ligging van die grootste voerkraal in die Vrystaat. Die toestand van die pad is onaanvaarbaar en weerspieël blatante minagting vir die publiek se reg op veilige en behoorlik onderhoue infrastruktuur,” het Bender gesê.

Jabu Mbalula, die Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer is na die vergadering genooi, maar nie hy of ‘n verteenwoordiger het die vergadering bygewoon nie. 

Belanghebbendes van die gemeenskappe het ‘n beroep op Mbalula gedoen om op Donderdag 10 Julie persoonlik met hulle te vergader om verantwoording te doen en ‘n duidelike aksieplan te verskaf.

Die herstelwerk aan die R708 was geskeduleer om op 1 Junie te begin en Mbalula sal verantwoording  moet doen oor hoekom die kontrakteurs nog nie betaling ontvang het nie.

Bender voeg by dat die sluiting van die R708 sal voortgaan indien Mbalula nie gehoor gee aan die gemeenskap se vereistes nie. “Dit is om beide lewens en lewensonderhoud te beskerm.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article