Ons land sal nooit regkom nie. My finansies kan nie herstel nie. Ek sien nie ’n uitkoms nie.
Ons ervaar soms situasies wat onmoontlik lyk. Hierdie omstandighede is gewoonlik baie angswekkend en neerdrukkend. Baie keer wil ons hier moed opgee. Hoe langer ’n mens jou in so ’n situasie bevind, hoe erger raak dit, want ’n mens raak nie gewoond aan gebrek aan gebedsverhoring nie.
Daar kom ’n tyd dat niks jou meer troos nie. Tog staan in Hebreërs 11:29-31 dat die Israeliete in God geglo het, en daarom het hulle deur die Rooisee gegaan soos wanneer mense oor droë grond trek. Toe die Egiptenare dit probeer doen, het hulle in die see verdrink.
Die Israeliete het in God geglo, en daarom het die mure van Jerigo geval.
Omdat Ragab, die prostituut, in God geglo het, het sy gesê dat die spioene van die Israeliete welkom is by haar – daarom het sy nie gesterf nie.
Miskien is jy verby die punt van Bybelverse wat jou hoop gee. Maar wat anders is daar as om te bly glo in die God wat ons aanbid? ’n Vader in die hemel wat in die verlede sy kinders droogvoets laat deurgaan het. Hy het mure laat val. Die lewe van ’n individu is gered omdat sy geglo het.
Geloof beteken dat ons soms, met ons hande in ons hare en verstand wat nie meer weet waarheen nie, steeds nader en bid tot ’n Hemelse en Almagtige Vader.
Gebed
Vader, soos die Romeinse offisier bid ek: Help my. Ek glo, maar ek glo ook nie meer nie. Heilige Gees, gee my ten minste ’n stuk rus in Almagtige Vader. Amen.
- Els was voorheen leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.