Geloftedag: ‘Afrikaners moet geskiedenislesse leer en koester’

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus-leier het die afgelope Saterdag op die Geloftedagviering by die Perdeberg-Boerereüniesaal tussen Petrusburg en Kimberley gesê “volksmoord gaan voort” en minderheidsgroepe “moet hulself staal teen die onsigbar


Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus-leier het die afgelope Saterdag op die Geloftedagviering by die Perdeberg-Boerereüniesaal tussen Petrusburg en Kimberley gesê “volksmoord gaan voort” en minderheidsgroepe “moet hulself staal teen die onsigbare vyand.”

Met Geloftedag word die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 naby Dundee herdenk. Altesaam 464 Voortrekkermans met nog sowat 400 agterryers, onder leiding van Andries Pretorius het sowat 16 000 Zoeloe-impi’s verslaan. Dit het gevolg nadat Dingaan, Zoeloe-koning, vroeër in dieselfde jaar vir Piet Retief, ‘n Voortrekkerleier, en sy geselskap in ‘n lokval vermoor en weke daarna sowat 500 Voortrekkers by Bloukrans gedood het. Meer as 700 diensbodes, veewagters, mans, vroue en kinders het omgekom.

Die afgelope Saterdag se Geloftedagdiens, gereël deur die Perdeberg Erfeniskomitee, is deur ds. Hennie Briel gelei, waarna Groenewald gesê het minderhede moet op God vertrou.

Van die lede van die Perdeberg Erfeniskomitee wat die Perdeberg-slagveld in samewerking met ander organisasies en vrywilligers opgeknap en die openingseremonie gereël het, is van links Retha Nel met klein De Wet Nel, Frans du Toit, dr. Louis Bothma en Marnus Nel.Foto: Charné Kemp

Geloftedag is op dieselfde dag as Versoeningsdag. “Ons glo in diversiteit en wil met ander groepe versoen, solank ons taal, godsdiens en kultuur nie vernietig word nie. Maar waak teen die onsigbare vyand, die een wat ons van ons volkstrots wil ontneem. Afrikaners is nie skaam oor sy geskiedenis en trots op wie en wat hulle is.”

Hy sê volksmoord vind steeds plaas.

Sowat 3 000 boere is sedert 1990 op hul plase vermoor. Elke dag word 75 mense in Suid-Afrika vermoor. Ons is nie meer veilig in ons eie huise nie en word gewelddadig beroof. Dié misdaad het in tien jaar met 100% toegeneem. Ons kinders kry nie werk nie, of kan nie medies studeer nie omdat hulle op velkleur takseer word. Ons word van menswaardigheid en geleenthede ontneem, tog betaal ons belasting wat gesteel word. Hulle wil ons verswak en vernietig. Dit is hoekom ons en ons kinders uit die geskiedenis moet leer en soos die Voortrekkers moet saamstaan om die vyand te verslaan.

Na die Geloftedag viering, het van die meer as 100 teenwoordiges na die Paardeberg-slagveld by Vendutiedrift op die oewer van die Modderrivier beweeg waar die opgeknapte monument onthul is. Tydens die Anglo-Boereoorlog is genl. Piet Cronje en sy 4 000 burgers wat hulself langs die rivier ingegrawe het, op 27 Februarie 1900 weens ‘n oormag Engelse soldate en dae lange gevegte genoodsaak om hulself oor te gee.

Die Perdeberg Erfeniskomitee en sy borge het die terrein opgeknap en ‘n afdak opgerig. Die Oorlogsmuseum het boeke en inligtingsborde verskaf. Die monument op private grond word onderhou deur Afriforum Kimberley, die Rapportryerbeweging, die Voortrekkers en Landsdiens.

Twee Voortrekkerlede van die Rocco Knobel-kommando in Kimberley, het die ou Transvaalse en Vrystaatse vlae by die Geloftedagviering gehys. Van links is Tiaan Erasmus, dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus-leier en Marle-Louise Pienaar.Foto: Charné Kemp

Dr. Louis Bothma, geskiedskrywer, het gesê Afrikaners moet lesse uit die geskiedenis leer. “Jong mense, moet ons lei. Hulle is die toekoms want hulle kan kopskuiwe maak. Ons moenie soos die ou boeregeneraals dieselfde taktiek oor dekades heen gebruik om die vyand te verslaan nie. Ons benodig nuwe, vars denke, soos wat genl. Koos de la Rey gedoen het toe hy loopgrawe begin gebruik om die vyand voor te lê en nie soos van ouds vanaf klipkoppe of heuwels te skiet nie. ‘n Minderheid kan ‘n meerderheid konfronteer, soos Dawid vir Goliat verslaan het met ‘n slim strategie.

“Ek is optimisties oor die toekoms, want ons is by ‘n draaipunt. Ons moet aanhou beweeg, en nooit gestrand raak soos Cronje nie. Suksesse moet vinnig opgevolg word.”

Bothma sê mense moet kul kinders na museums en slagvelde bring om ‘n toekoms te bou. “Ons mag nie die staat vertrou om ons monumente te bewaar nie. Ons moet trots staan en eienaarskap neem.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.