Geliefde inwoner sterf skielik

‘n Geliefde inwoner van Kroonstad, bekend in die spysenieringsbedryf is skielik oorlede.


‘n Geliefde inwoner van Kroonstad, bekend in die spysenieringsbedryf is skielik oorlede.

Die 82-jarige Suna Joubert, is op Maandag (10/07) aan ‘n massiewe trombose oorlede, en is in die tuinpaadjie van haar wooneenheid by Huis Edelkroon in Kroonstad, deur haar kleinkinders Joubert en Janré Oelofse gevind.

“My ma was nog op en aan die gang. Sy het tydens die Bokkieweek wat die eerste week in Julie plaasgevind het, nog vroeg soggens tot laat saans gehelp om die sportdrag van die spelers te was. Sy het nooit stilgesit nie en ons is almal stomgeslaan oor haar skielike afsterwe,” sê Janine Oelofse haar dogter, ‘n maatskaplike werker van Kroonstad.

Joubert word beskryf as ‘n formidabele vrou wie se liefdestaal kos was en sy was altyd bereid  om ander te versorg en by te staan. Sy het vir 12 jaar na haar man Jan Joubert, wat bedlêend was omgesien. Jan is verlede jaar Januarie oorlede.  Tydens die Covid-19 pandemie het Joubert vir inwoners van Huis Edelkroon kos aangedra en gehelp met takies soos hare was, al het sy self Covid-19 gehad. “Haar hart vir haar medemens was onbeskryflik groot en  haar liefde om mense te versorg was ooglopend.”

“Daar is min mense in Kroonstad en omgewing wat nie van my ma se lekker kos geëet het nie. Sy het vir vele troues en funksies kosgemaak en het ook haar eie restaurant bedryf.  Vir vele fondsinsamelings het sy pannekoek gebak en kos gemaak om te verkoop.  Sy het nooit twee keer gedink om iemand te help nie.”

Joubert was ‘n boorling van Lindley, maar het op 12-jarige ouderdom na Kroonstad verhuis.

Sy word deur haar seun Francois, dogter, Janine, en hul eggenote Yvette Joubert en Riaan Oelofse en vyf kleinkinders Suné, Carla, Joubert, Janré en Rijané oorleef.

Haar roudiens het op Dinsdag (19/07) om 11:00 vanuit die NG Kerk Kroonstad-Suid plaasgevind en dr. Hannes Els het die diens  gelei.

You need to be Logged In to leave a comment.