Die jaar het op ’n rustige noot begin, amper sku en te stil.

Totdat Maandagoggend se koerantopskrifte die sinnelose moord op ’n jong boer van Ficksburg aankondig. ’n Jong man wat sy pa wou beskerm, is ná ’n woordewisseling koelbloedig doodgeskiet. Dit is skokkende nuus.

Die vrae kom een ná die ander in ’n mens se gemoed op. Vrae soos: As die jaar dan nou só grys begin, waar gaan dit eindig?

Telkens met die oorgang van die ou na die nuwe jaar hoop ’n mens dat die volgende 365 dae vir ons goed sal wees. Hoewel ons kan seker wees dat daar teenspoed ook sal kom, is dit menslik om net die goeie te verwag.

Dan slaan die werklikheid van die daaglikse lewe egter toe, wat ’n mens laat besef hoe belangrik dit is om in elke oomblik met dankbaarheid te leef.

Die oorslaan van ’n sekondewyser wat die nuwe jaar aankondig, lui ’n tyd in wat immers ook net ’n sekonde verwyder van die vorige tyd is. Die lewe gaan gebeur, hetsy goed of sleg.

Daarom, juis, moet ons in die oomblik lewe en die werklikheid hanteer soos dit gebeur.

Mag VrystaatKroon se lesers elkeen in 2023 met opregte dankbaarheid lewe, en mag elke sekonde van in die oomblik lewe goed wees.

You need to be Logged In to leave a comment.