Dit is bekend as die fees met gees, en daar heers groot opgewondenheid oor die jaarlikse VKB Bieliemieliefees wat einde Februarie plaasvind.
Dié fees, wat in Reitz aangebied word, is ’n hoogtepunt op die vermaakkalender.
Alles op koers vir vanjaar se fees
Die 45ste VKB Bieliemieliefees is gereed om soos in die verlede duisende besoekers met eiesoortige plattelandse gasvryheid te ontvang.
Die organiseerders het weer seker gemaak dat daar iets vir almal is, en hulle beloof dat die fees hope pret vir oud en jonk sal bied.
Die feesterrein se hekke open op Donderdag 27 Februarie om 12:00 en sal op Sondagmiddag 2 Maart sluit nadat almal uitgekuier is en opgepak het.
Landbouskou aan die hart van Bieliemielie
Die VKB Bieliemieliefees het homself gevestig as die tuiste van een van die grootste en gewildste landbouskoue in die land, en jaarliks besoek meer as 17 000 mense die fees.
Besoekers kan die nuutste landboutoerusting en -tegnologie, vanjaar van sowat R100 miljoen, besigtig waar dit ten toon gestel word.
Dit sal vir seker elke boer se hart warm laat klop.
Boere kry ook die geleentheid om met hul heel beste vee te spog. ’n Kudde- en slaglamkompetisie, asook ’n beesuitstalling en ’n ramveiling word onder meer aangebied.
Verskillende plant-, onkruiddoder- en besproeiingsproewe is ook reeds aangeplant sodat produsente met kennis bemagtig kan word.
Oes van vermaak trek besoekers van oraloor
Dié fees is egter nie uitsluitlik vir landbouprodusente nie. Die feesprogram is propvol vermaak, en bekende vermaaklikheidskunstenaars wat sorgvuldig uitgesoek is, sal weer die voete laat jeuk met musiek uit die boonste rakke.
Vanjaar sal 11 topkunstenaars die gehoor vermaak: Chris Steyn, Ivan Roux, Herman Kleinhans, Dozi, Brendan Pyper, Jan Rhaap, Radio Kalahari Orkes, Robbie Wessels, Ruhan du Toit, Riaan Benadé en BlackByrd.