Geduld sy eie beloning

Om te wag is nie juis enigeen wat ek ken se sterk punt nie. Min of geen mense hou daarvan om te wag.


Om te wag is nie juis enigeen wat ek ken se sterk punt nie. Min of geen mense hou daarvan om te wag.

Ons leef in ’n kitstyd van alles wat vinnig en dadelik moet geskied. Van eposse tot selfs aandetes, alles moet vinnig gebeur.

Is dit nie dalk juis hoekom ons so groot probleem (eintlik krisis) met God se tyd het nie? Want God is alles behalwe kits, vinnig, of dadelik.

Daar is meer opdragte in die Woord om op die Here te wag as om haastig te wees.

In Jesaja 30:18 word selfs die belangrikheid van wag in die vorm van ’n saligspreuk beklemtoon: “Want die God van reg is die Here; gelukkig is almal wat op Hom wag.” (2020-vertaling; NKJV – “For the Lord is a God of justice; Blessed are all those who wait for Him.”)

Hierdie wag is egter nooit ’n passiewe niksdoen-tydmors-oefening nie. O nee, dit vra opsetlikheid intensionaliteit.

Ons is van nature op soek na vinnige en eenvoudige oplossings en antwoorde. Wag verg stilte en afsondering. Juis vanweë die baie (duisende) stemme wat meeding om my aandag, is wag nodig om ondanks al daardie stemme stil te word sodat ek die Here se stem in my lewe die duidelikste kan hoor.

Is dit nie interessant dat Webster se Engelse woordeboek wag verklaar as “To stay or rest in expectation; to stop or remain stationary, till the arrival of some person or event,” nie?

Wag is daarom nooit passief-niksdoen-tydmors nie.

Dit is ’n aktiewe wag in verwagting en afwagting!

Mag jy minder haastig wees om baie vir die Here te doen, en meer wagtend op Hom te wees sodat jy sy hart en stem duidelik in jou lewe kan hoor.

  • Weideman is leraar aan die NG kerk Kroonheuwel-Noord in Kroonstad

You need to be Logged In to leave a comment.