Gebrekkige dienste in Bethlehem kwel

Die kantoor van die departement van binnelandse sake in Bethlehem is ’n bron van groot kommer in die Dihlabeng-munisipaliteit.

Swak dienslewering by die kantoor van die departement van binnelandse sake in Bethlehem het mense moedeloos. Hulle moet soms weke lank dag ná dag in rye staan, dikwels in gure weersomstandighede.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die kantoor van die departement van binnelandse sake in Bethlehem is ’n bron van groot kommer in die Dihlabeng-munisipaliteit.

Swak dienslewering laat besoekers radeloos en dit het ’n bykans onbegonne taak geword om identiteits­dokumente, paspoorte, afskrifte van huwelik- of geboortesertifikate, of enige ander dokument wat deur die departement uitgereik word, te bekom.

Aansoekers staan dae lank in lang rye en ook soms in gure weersomstandighede.

Dit wil voorkom asof mense wat aanlyn ’n afspraak maak, bejaardes en mense met gestremdhede wel met voorkeur behandel word.

Die departement het vanaf provinsiale vlak per e-pos aan die DA bevestig dat hy van die situasie bewus is en dat soortgelyke kwessies landwyd ervaar word weens beurtkrag.

Verder kan die huidige perseel nie ’n kragopwekker huisves nie en die departement is op soek na ’n geskikte perseel in Bethlehem om sodoende die probleem op te los. Hy besef ook dat die drukkers ’n reuse-oponthoud in die uitreiking van dokumente veroorsaak en die departement het onderneem om dringend in te gryp.

Estie Senekal, DA-raadslid in Dihlabeng, sê die party ontvang gereeld klagtes oor die swak dienslewering en daar is in hierdie stadium geen maklike antwoorde nie.

“Binnelandse sake is ’n nasionale entiteit en derhalwe sal die DA op provinsiale en nasionale vlak druk toepas om die situasie te verbeter,” het sy bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.