Die departement van binnelandse sake in Bethlehem is ’n groot kopseer in die Dihlabeng-munisipaliteit.
Klagtes oor swak dienslewering by die departement laat besoekers radeloos en dit het ’n bykans onbegonne taak geword om identiteitsdokumente, paspoorte, afskrifte van huwelik- of geboortesertifikate, of enige ander dokument wat deur die departement uitgereik word, te bekom.
Aansoekers staan dae lank in lang rye en trotseer ook soms gure weersomstandighede.
Dit wil voorkom asof aansoekers wat aanlyn ’n afspraak gemaak het, bejaardes en mense met gestremdhede wel voorkeur kry.
Volgens die departement van binnelandse sake wag die Bethlehem-tak op ’n kragopwekker, en die voortslepende beurtkrag belemmer die lewering van dienste.
Verouderde toerusting, ’n drukker wat buite werking is en die rekenaarstelsel wat soms ure neem om weer aanlyn te kom ná beurtkrag, is wat die dienslewering finaal in die wiele ry.
Die departement kon ook nie bevestig wanneer kliënte weer op ’n Saterdag of Sondag gehelp sal kan word nie, omdat dit meer geldelike druk op die departement plaas.
Estie Senekal, DA-raadslid van die Dihlabeng-munisipaliteit, sê dat die party gereeld klagtes oor die swak dienslewering ontvang en dat daar op hierdie stadium geen maklike antwoorde is nie.
“Binnelandse sake is ’n nasionale entiteit en derhalwe sal die DA op provinsiale en nasionale vlakke druk toepas om die situasie te verbeter. Dit is maar net nog een van vele bewyse van die onvermoë van die regerende party om staatsinstansies doeltreffend te bestuur.”