Die Bethlehem-museum, met sy indrukwekkende geskiedkundige uitstallings, bied aan besoekers ’n insiggewende en verrykende ervaring. Hier word die geskiedenis van verskillende taalgroepe, asook kulture van Bethlehem en omgewing, bewaar.
Die museumgebou, wat aanvanklik ’n sendingkerk was, is in 1963 deur die Bethlehemse stadsraad gekoop om die museum daar in te rig. Dit is amptelik in gebruik geneem in die honderdste bestaansjaar van Bethlehem, in 1964.
Die blou ysterklip en sandsteen van die gebou was afkomstig uit die gruisgroef direk langsaan die museumterrein, waar die winkelsentrum se parkeerterrein vandag is.
Die eerste kurator, Rich Venter, het artefakte uit die gemeenskap ingesamel. Hy het elke artikel genommer en die geskiedenis daarvan en die skenker se besonderhede noukeurig in ’n boek aangeteken.
Die historiese Riddell-gebou is in die vroeë 1980’s van Tom Roffe aangekoop en uit die middedorp na die museumterrein verskuif. In 1989, in aanloop tot die dorp se 125ste bestaansjaar, is die terrein vergroot en is die rooi waenhuis en die afdak langs die museum opgerig.
In 2019 het die Bethlehem-museumtrust ’n staalstruktuur aangekoop en opgerig met die idee om ’n kultuursentrum te bou waar gesellighede vir geldinsameling gehou kan word. Die toenemende getal besoekers het ook die museum genoodsaak om intussen toilette en kombuisgeriewe in te rig. Die projek is in 2021 voltooi.
Engela van der Merwe het in 2023 ’n volledige sandsteenhuis aan die museum geskenk. Die huis is afgebreek en die materiaal – wat geelhout-plankvloere, houtdeure, vensters en sinkplate insluit – word veilig bewaar.
“Die stoep is met van die materiaal en met behulp van borge opgerig vir die bewaring van die ossewaens,” sê Palm Maree, voorsitter van die trust.
Maritha Swanepoel, sekretaresse van die Bethlehem-museumtrust, sê in 2016 het die trustlede, vriende en ander vrywilligers met minimale geld tot hul beskikking die museum laat verf en die dak en vloere laat herstel.
“Kundiges van die Nasionale Museum in Pretoria en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein het kom hand bysit om die museum in verskillende temas op te deel. Die geskiedenis vanaf die 1800s word by die museum uitgestal en bewaar.”
Volgens Swanepoel word ook fossiele en versteende boomstompe wat 240 miljoen jaar oud is uitgestal. Klippe met rotskuns, grammofone, radio’s, kameras, foto-versamelings en persoonlike artikels van dorpstigters, asook bekende mense van die Bethlehem-omgewing, en vele meer kan besigtig word.
In die naslaan-afdeling is verskeie boeke, tydskrifte, jaarblaaie van kerke, skole en koerante.
“Mense van so ver soos die Paarl en Pretoria besoek die museum om navorsing oor hul voorgeslagte te doen.”
By die waenhuis word verskeie rytuie uitgestal, van ’n lykswa tot ’n veerwa. Die 1949 Mack-brandweerwa word sedert 2017 gebruik vir die museum se Kersvader-projek om geskenke aan die dorp se kinders uit te deel.
Hoogtepunte op die kalender is die besoeke deur skole in die dorp en omgewing, die herdenking van Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap op 6 April, Nasionale Museumdag op 18 Mei en die viering van Erfenisdag op 24 September.
Die museum word deur vrywilligers beman en kan elke Woensdag van 14:00 tot 16:00, en Saterdae van 10:00 tot 12:00, besoek word.
“Besoekers kan egter wel die telefoonnommers op die bord by die museum skakel indien hulle die museum wil besoek wanneer dit gesluit is,” sê Swanepoel.
Groepe moet twee weke voor hul voorgenome besoek ’n afspraak maak.
Dit kos R10 per persoon om die museum te besoek. Kinders jonger as ses jaar kry gratis toegang.
Mense wat graag by die museum betrokke wil raak, kan hulle as vrywilligers by die Vriende van die Museum-vereniging aansluit, teen R100 ledegeld per jaar.
Die museum word sedert 2008 deur die Bethlehem-museumtrust bestuur, met 13 aktiewe trustees. Die Vriende van die Museum-vereniging is in 2013 gestig – trustees en lede van die verenging werk as vrywilligers om die museum skoon en netjies te hou, geld in te samel, artefakte te versamel en te orden, die geriewe te verbeter en om die museum te help bemark.
Die museum ontvang geen geldelike ondersteuning van enige staatsorganisasie nie en is afhanklik van geldinsameling en hulp van die gemeenskap om sy bedrywighede voort te sit.
Vir meer inligting, of om betrokke te raak, kontak Palm Maree, voorsitter van die Bethlehem-museumtrust, by 082-403-9002; Leon Badenhorst, voorsitter van die Vriende van die Museum-vereniging, by 071-608-4484; of Swanepoel by 083-257-5488.
Die Bethlehem-museum is by Mullerstraat 7 geleë.