In die rustigheid van die pikdonker nag sit ek agteroor en betrag die dag se gebeure.
Die kers in die blaker op my kombuistafel se vlam staan botstil, terwyl die kers in die glasbottel aanhoudend voor my ronddans.
Dit is beurtkrag-tyd en daarom sit ek na die kerse en staar.
“Hallo darkness, my old friend,” of soos ek op die sosiale media raaklees: Ons leef nou nie meer in vlakke nie, maar fases, danksy beurtkrag.
Fase 6-beurtkrag is besig om sy tol te eis en die gemoedere loop hoog.
Om nie te praat van die wispelturige tydgleuwe van al die beurtkragfases nie.
Die invloed hiervan woed in my binneste – die situasie is doodeenvoudig onaanvaarbaar. Ons word gemartel, ter wille van politieke agendas.
Van nature is ek verdraagsaam en geduldig, maar ek kan voel my gemoedsmeter raak-raak aan die rooi. Ons nerwe word getoets.
Dit is ’n geskarrel van links na regs om te verseker jy word nie onkant gevang nie: Kom ek was gou die wasgoed, doen my werk klaar op die rekenaar . . . en so gaan dit aan.
Basta met “Ons verstaan dit is nou deel van ons lewe.”
Nee, dit is beslis nie hoe dit hoort nie.
Hoekom word ons dag ná dag verplig om die uitdagings as normaal te aanvaar?
Wie of wat het dit besluit?
Dit is tyd dat ons opstaan.
Elkeen in die land word hierdeur geraak – behalwe, skynbaar, die politici.
Dit is net hulle wat ’n tikkie van die land se melk en heuning – dit wat oor is – mag geniet. Dit is die res nie beskore nie.
Sal ons nou maar aanhou stilstaan soos die kers in die blaker, of moet ons begin ronddans soos die vlam in die glashouer, die een wat smag na lug, of in ons geval lig?