Franse Herfsmark vol lekkertes, verrassings en pasellas

Bring die hele familie en geniet op Saterdag 6 April Franse sjarme op Villa Avianto.


Bring die hele familie en geniet op Saterdag 6 April Franse sjarme op Villa Avianto by Bloemfontein.

Suretha van Heerden, organiseerder van die Franse Mark en mede-eienaar van Villa Avianto, nooi almal na dié spesiale herfsmark.

“Ons sien daarna uit om julle met ope arms welkom te heet op ons mark met sy nuwe voorkoms. Die Franse Herfsmark sal selfs meer as gewoonlik bied, met heelwat nuwe uitstallers en ’n vol program.”

Franse Mark

Heerlike gebak alleen is genoeg om ’n mens na die Franse Herfsmark, op Saterdag 6 April by Villa Avianto by Bloemfontein, te trek. Markgangers kan gerus ook hierheen kom om na die wye verskeidenheid produkte en geskenke te loer. Foto: Lientjie Mentz

Van Heerden sê daar wag ’n spesiale verrassing op markgangers wat vir die geleentheid ’n Franse uitrusting dra.

“Vanjaar fokus die Franse Mark op die veilige saamkuier van gesinne, met goeie kunstenaars, sodat mense in ’n veilige omgewing tyd saam kan deurbring terwyl hulle aan vars markprodukte smul – van Franse en Deense gebak, tot sjokoladecroissants en vars gebakte brode.

“Ons is ook baie opgewonde om nuwe en talentvolle musikante aan markgangers bekend te stel. Dit sluit in Herman Smit, Judah Wahl en Tarien Broodryk, wat agtergrondmusiek verskaf by ons nuwe restaurant met sitkamer in die tent.”

Markgangers kan ook kos, kuns en kunstenaars verwag. Die mark se kinderspeelgedeelte word vernuwe, met verskeie nuwe aktiwiteite wat insluit: gesigverf, springkastele en ’n glybaan, asook sandkuns-aktiwiteite en ’n outydse parkie met swaaie, hobbelperdjies en ’n rondomtalie.

Klassieke Europese tuinspeletjies soos kroukie en pétanque kan ook hier gespeel word.

Die verversings vir die kinders kry ook nuwe lekkertes by, soos spookasem en vrugte-skommeldrankies (“smoothies”).

’n Franse foto-hoekie sal op die mark wees.

Die Franse Mark is familie- en troeteldier-vriendelik, met hoogs waaksame veiligheidswagte.

Verrassings uitgedeel

Spesiale geskenkpakkies sal op die herfsmark toegeken word aan gaste wat die organiseerders van die mark beïndruk as die:

  • bes geklede Franse paartjie;
  • besgeklede man;
  • besgeklede vrou;
  • oulikste Franse woef;
  • beste uitstaller op die stoep, in die kapel, tent, by die oprit, voor die kapel en by ingang 2;
  • beste nuwe uitstaller;
  • uitstaller wat al die langste uitstal; en
  • beste mans-uitstaller.

Die mark open Saterdag om 08:00 en duur tot 15:00.

Toegang kos R40; R30 vir studente en gaste ouer as 60; R20 vir leerlinge van gr. 8 tot gr. 12; en R10 vir leerlinge van gr. 1 tot gr. 7. Kinders jonger as ses jaar kry gratis toegang.

Franse Mark

Rudolph Botha wys een van die oondgebakte pizzas op die Franse Mark van 2 Maart. Foto: Lientjie Mentz
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.