Fluit-fluit, die storie is ná dekades eindelik uit

’n Inwoner van Kroonstad was verheug toe hy ná jare sy hande op sy eie Brolloks en Bittergal kon lê; dit nadat hy sedert sy laerskooldae gewonder het hoe die storie eindig.


’n Inwoner van Kroonstad was verheug toe hy ná jare sy hande op sy eie Brolloks en Bittergal kon lê; dit nadat hy sedert sy laerskooldae gewonder het hoe die storie eindig.

Dit was oom Hans van Schalkwyk (81) se harts­begeerte om dié boek klaar te lees.

As laerskoolkind het sy Juf. Viljoen van die Sentrale Volkskool in Kroonstad die boek vir hulle voorgelees, maar ongelukkig nie klaar nie.

“Die verhaal het my as kind aangegryp en dit het my fasineer – daarom het ek altyd gewonder hoe die boek eindig,” sê oom Hans.

“Toe ek die boek onlangs in die hande kry, was ek skoon angstig.

“Ek het dit nie neergesit voordat ek dit klaar gelees het nie.”

’n Familie-vriendin, Gerda Kleyngeld van Kroonstad, het toe sy oom Hans se storie hoor, besluit om vir hom Brolloks en Bittergal op te spoor sodat hy die boek kon klaar lees.

Sy wou graag vir hom sy eie kopie gee en het met vele navrae en soektogte op die internet die boek gratis gekry, van ’n anonieme skenker in Kroonstad.

“Baie mense besit die boek, maar wou dit net vir die oom leen.

“Ek wou baie graag vir hom sy eie kopie bekom sodat hy die storie rustig en op sy tyd kon lees.

“Nou kan hy die spesiale boek aan sy kleinkinders en agterkleinkind oordra.”

Oom Hans het eindelik die boek klaar gelees en sy nuuskierigheid oor die einde van hierdie storie is bevredig.

Hy sê dat hy baie lief is vir lees, en van kleins af was hy ’n regte boekwurm.




  • Brolloks en Bittergal

    , geskryf deur C.J. Langenhoven, is ’n humoristiese verhaal van twee mensvreters wat net nie die mas opkom nie. Die verhaal gryp geslagte lank al kinders se verbeelding met vrees en opwinding aan.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.