Finaliste bewys vrouwees is vrymagtig

Twee Kroonstadters het uit 184 inskrywings landwyd na die eindronde van die Dream Girl SA-kompetisie deurgedring.


Twee Kroonstadters het uit 184 inskrywings landwyd na die eindronde van die Dream Girl SA-kompetisie deurgedring.

Alesia van Rensburg (41) en Marzel (Wentworth) van Tonder (33) het aan die begin van April die nuus ontvang dat hulle onder die 48 finaliste in die kompetisie is.

Alesia, wat in Kroonstad woon en werk, sê sy het vir die kompetisie ingeskryf om haar eie vrouwees uit te daag en om haarself uit haar gemaksone te neem.

“Skoonheid is soveel meer as net die uiterlike, en ek wil graag ’n Spreuke 31-vrou wees. Dit beteken nie noodwendig dat jy die mooiste, slimste of rykste mens hoef te wees nie. Dit behels om jou eie waarde raak te sien soos God jou geskape het.”

Dit is vir haar belangrik om deur geloof haar passie uit te leef om só haar droom ’n werklikheid te maak.

Marzel, ’n oud-Kroonstadter wat deesdae in Klerksdorp woon, maar steeds weekliks ’n draai in Kroonstad maak by die familieonderneming in die dorp, het wel voorheen al aan skoonheids­kompetisies deelgeneem.

Tog meen sy dat Dream Girl SA ’n ander dinamika en platform na dié soort kompetisies bring, en dit maak haar juis baie opgewonde om deel daarvan te wees. Sy kan nie wag om die Dream Girl SA-reis saam met haar mede-finaliste aan te pak nie.

Sy besef egter dat dit baie harde werk en deursettingsvermoë gaan verg.

Marzel (Wentworth) van Tonder (33), ’n oud-Kroonstadter wat deesdae in Klerksdorp woon, is as finalis in die Dream Girl SA-kompetisie gekies.

“Ek hoop om as mens deur die proses te groei en om so ook my spesifieke doel hier op aarde te help ontgin.

“Dan wil ek graag by almal daar buite ’n saadjie van hoop plant. Onthou, enigiets is moontlik wanneer jy in jouself glo,” sluit Marzel af, ’n aanhanger van die Ghandi-aanhaling “Be the change you want to see in the world.”

Die kompetisie word jaarliks deur die voormalige Mev. Suid-Afrika Teresa Troskie-Herbst, die eienaar van Dream Girl SA, aangebied.

In die kompetisie word daar nie op die deelnemers se uiterlike gekonsentreer nie. Die hoofdoel is eerder om hulle te bemagtig en om, deur middel van werksessies, hul leier-eienskappe en talente te ontwikkel sodat hulle as volwaardige vroue hul plek in die samelewing kan vol staan.

Die perfekte Dream Girl is toegewyd aan haar familie, vriende en gemeenskap. Sy staan uit as ’n leier, entrepreneur en is vir seker ’n inspirasie vir ander vroue

“Die perfekte Dream Girl is toegewyd aan haar familie, vriende en gemeenskap. Sy staan uit as ’n leier, entrepreneur en is vir seker ’n inspirasie vir ander vroue,” sê Troskie-Herbst.

Deelnemers word beoordeel volgens punte wat hulle in die onderskeie afdelings van die kompetisie opbou, naamlik besigheids­vernuf, skoonheid, vermaaklikheid en liefdadigheids­werk.

Finaliste ontvang werksopdragte vir elkeen van die afdelings wat dan op ’n punte-basis beoordeel word. Bykomend moet alle finaliste geldinsamelingsprojekte bedryf vir ’n welsyn- en diereorganisasie van hul keuse.

Die twee Kroonstadters hoop dat elkeen wat direk of indirek saam met hulle op die Dream Girl SA-reis gaan, inspirasie van hoop sal vind, en hulle bedank almal vir hul ondersteuning tot dusver.

Die algehele wenner in die 2023 Dream Girl SA-kompetisie sal op ’n spoggerige gala-geleentheid op 28 Oktober gekroon word.

You need to be Logged In to leave a comment.