’n Onvergeetlik ervaring wag op feesgangers wat vanjaar se Ignite and Revive-fees, wat vanaf 1 tot 3 September in Kroonstad plaasvind, gaan bywoon.
Buiten hope vermaak en doendinge wat beplan word, is daar uitstallers wat iets na elkeen se smaak te koop sal aanbied. ’n Nuwe toevoeging tot die fees is 30 entrepreneurs wat hul unieke produkte aan nuuskierige toeskouers ten toon sal stel.
Dan is daar die gewilde dekormark waar ’n verskeidenheid handgemaakte produkte te koop aangebied sal word.
Soos verlede jaar sal dié mark ’n hoogtepunt wees met modieuse bykomstighede, huisversierings, babaprodukte, linne en eetgoed van hoogstaande gehalte.
Motorhandelaars sal hul nuutste motors uitstal en agt bekende landbou-uitstallers sal ook daar wees.
Die fees se 18 kosstalletjies en dié se groot verskeidenheid kossoorte sal verseker dat geen feesganger honger daar wegloop nie.
Daar is ook planne beraam vir ’n biertuin wat bier van ’n plaaslike brouery sal verkoop, en ’n jenewer-tent vir die jenewer-liefhebbers.
Terwyl Ma in die teetuin met heerlike koffie, tee en iets om aan te peusel ontspan, sal die kleinspan na hartelus baljaar met al die vermaak wat vir hulle opgedis is.
Feesgangers sal verheug wees om te verneem dat toegang tot die teetuin en uitstallers gratis is.
Op Saterdag 2 September bied Trio ’n kuiergeleentheid met Lizz Meiring, in die North High School (die ouRooiskool) se skoolsaal aan. Kaartjies vir dié geleentheid is te koop teen R150.
Die bekende kunstenaars Duane & Oakes, Carmen Basson, Jaco Bezuidenhout, Ricus Nel, Juanita du Plessis, Robbie Wessels, Armand Hofmeyr, Andriëtte Norman, Jo Black, Droomsindroom en Onbeskaamd sal tydens vanjaar se fees optree.
Belangstellendes kan kaartjies vir die fees aanlyn of by Pick n Pay Panorama, The Interior Shop en Sernick Butchery & Deli koop.
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan info@igniteandrevive.co.za. Hou ook VrystaatKroon en die Facebook-blad VrystaatKroon Newspaper dop vir meer inligting.