Die VKB Bieliemieliefees se organiseerders kan nie meer wag vir Februarie nie. Nadat die koronavirus die gemeenskap van 2021 se fees ontneem het, is alles nou feitlik gereed dat besoekers maar op die feesterrein kan opdaag met hul feesskoene aan – gereed om alles te geniet wat die geleentheid hulle kan bied.
Die uitstallers se vee is vet gevoer en gereed vir die skou; die pryse vir die verskillende kompetisies waaraan skougangers kan deelneem, staan gereed; en die gaskunstenaars kan nie wag om weer in lewende lywe voor gehore op te tree nie.
Reitz en dié deel van die Oos-Vrystaat is mielie-, soja- en sonneblomwêreld en die boeregemeenskap is so gasvry soos hulle kom. Van Donderdag 24 tot Sondag 27 Februarie gaan vermaak op die feesterrein hier verskaf word om te wys hoe die Vrystaters kan kuier.
Die Bieliemieliefees is die Vrystaat se vierde grootste fees en lok jaarliks so by die 17 000 feesgangers.
Daar is weer vir feesgangers van elke ouderdom voorsiening gemaak. Die kleingoed word in die pretpark vermaak terwyl voornemende en jong boere en pa’s die uitstallings van implemente kan waardeer en vroue die stalletjies kan besoek of by die vroue-saal kan aandoen vir ’n voet-, hand- of nekmassering.
Daar is egter soveel meer as net dit op die program vir die drie dae van feestelikheid.
Vir die 42ste fees kan besoekers verwag om uitstallings van die nuutste landbou-implemente te sien, asook die mooiste skape op die SA Vleismerino-skou en boere se heel beste vee in die kuddekompetisie, die ramveiling en die bees-uitstalling.
Hulle kan ook sommer toekyk hoe bedrewe skaapskeerders in die spoedskeerkompetisie teen mekaar meeding voordat die sterk manne kyk wie die swaarste vrag wol kan dra.
Daar is weer lekker pryse te wen – onder meer vir die een wat die bul se gewig reg kan skat, vir die een wat ’n skaap die vinnigste kan skeer, vir die vermaaklikste optrede in Bieliemielie’s Got Talent en vir die een wat die speenvark kan vang. Feesgangers moet ook nie van die skattejag vergeet nie.
Streepsakke, eiers, bokmis, mieliepitte, trekkerbande en wie weet wat nog alles sal die ronde doen vir diegene wat aan die boeresport saam met sepiesterre van Binnelanders en Getroud met rugby wil deelneem.
Wanneer die kleinspan moeg gespeel is in die pretpark, kan hulle hul gesigte laat verf, en hulle kry ook die kans om vir Dienkie en Doedels te ontmoet. Buster en Bella sal ook daar wees.
Saans is dit konserttyd en kunstenaars soos Christia Visser, Drie van die bestes, Jan Jan Jan, Appel, Riana Nel, Riaan Benade, Early B, Ivan Roux, Bernice West en Sunset Sweatshop gaan feesgangers vermaak.
Fikses kan die Saterdag aan die Bieliemielie-marathon, wat ’n kwalifiseringswedloop vir die Comrades- en die Two Oceans-marathon is, deelneem. Hardlopers wat voorheen hieraan deelgeneem het, weet: Of jy nou die 5 km- of 10 km-pretdraf, die halfmarathon of die marathon aanpak, dit bied ’n lieflike roete.
Vir ander sportgeesdriftiges is daar ook ’n krieketwedstryd, bergfietswedren, skiet en ’n gholf- en visvang-kompetisie waarin groot pryse gewen kan word. Die bulletjierugby- en mini-netbal-wedstryd lok ook op elke fees groot belangstelling.