Fees vanjaar nog meer van ’n bielie

Vanjaar se VKB Bieliemieliefees beloof om alle verwagtinge van besoekers te oortref met ’n nuwe, propvol program en baie uitstallers.


Vanjaar se VKB Bieliemieliefees beloof om alle verwagtinge van besoekers te oortref met ’n nuwe, propvol program en baie uitstallers.

Die fees word vanjaar ’n 43ste keer in Reitz in die Oos-Vrystaat aangebied, van 23 tot 26 Februarie.

Oorspronklik is dit in die 1980’s as ’n klein skou in die plattelandse dorpie Reitz begin, en vandag is die VKB Bieliemieliefees een van die grootste landbou-, familie- en gemeenskapsfeeste in Suid-Afrika. Jaarliks besoek sowat 17 000 feesgangers en 140 uitstallers die fees.

Die nuutste landboutoerusting en tegnologie word aan feesgangers bekend gestel, en boere spog met die heel beste vee in die kudde- en slaglamkompetisie, asook op die ramveiling en die beesuitstalling.

In ’n vindingryke uitdaging meet mans en vroue kragte deur te kyk wie die swaarste vrag wol kan dra.

Soos nou al tradisie is, bied die uitstallers iets vir alle feesgangers – van juwele vir vroue tot geweersakke vir mans en speelgoed vir oud en jonk. ’n Wye verskeidenheid vars, verwerkte en diereprodukte, asook ’n uiteenlopende aanbod kuns, nutsgoedere en unieke artikels, is beskikbaar.

Moenie die kosstalletjies vergeet nie. Egte plattelandse kos wat die mond laat water, word aangebied. Dié boerekos is net nog ’n rede om by die fees te kuier.

Die VKB Bieliemieliefees bied ook sportaktiwiteite. Dit sluit ’n marathon, bergfietsresies, krieketwedstryd, asook hengel- en gholfkompetisies, in.

Wedstryde in bulletjie-rugby en mini-netbal lok elke jaar groot belangstelling; ook die boeresport, wat groot pret verseker.

Die lys vermaaklikheidskunstenaars wat op die VKB Bieliemieliefees optree, beïndruk vanjaar met groot name in die bedryf wat die verhoog gaan betree. Dit sluit in Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties, Ricus Nel, Robbie Wessels en Klipwerf.

Om die hele program te sien besoek bieliemielie.co.za of die Facebook-blad VKB Bieliemieliefees.

Kaartjies is beskikbaar by VKB se handelstak in Bethlehem en Reitz, computicket.com, asook by die hek. Dag- en ’n naweekkaartjies te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.