Fees van feeste wag op dorp van die jaar

’n Fees wat beloof om in alle opsigte onvergeetlik te wees is in die vooruitsig vir besoekers aan Kroonstad vir die KIA Makietie en die eerste Ignite and Revive-fees en Trio se ope dag.

Die KIA Makietie as deel van Kroonstad se vieringe as kykNET Kwêla dorp van die jaar, asook die eerste Ignite and Revive-fees in Kroonstad en Trio se ope dag vind van 21 tot 23 Oktober plaas.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

’n Fees wat beloof om in alle opsigte onvergeetlik te wees is in die vooruitsig vir besoekers aan Kroonstad vir die KIA Makietie en die eerste Ignite and Revive-fees en Trio se ope dag.

Belangstellendes kan ’n bedrywige feesprogram verwag wat deur ’n spogdinee op Donderdagaand 20 Oktober voorafgegaan word. Die geleentheid sal in die Johan Slabbert-skool se saal plaasvind.

Op die Vrydag, tydens Trio se ope dag, kan feesgangers nader staan om die reuse- en indrukwekkende landbou-uitstalling, vrouemark, teetuin, bier-en-gin-tuin, asook optredes deur plaaslike én bekende gaskunstenaars, te geniet. ’n Wye verskeidenheid produkte sal by stalletjies te koop aangebied word, en daar sal nie ’n tekort aan kosstalletjies wees nie.

“Dit is ’n eerste vir Kroonstad: ’n 3-in-1 fees waaroor ons kinderlik opgewonde is,” sê feesorganiseerder André van Pletzen van Ignite and Revive.

“Die fees is beplan rondom die KIA Makietie, wat Kroonstad as kykNET se Kwêla dorp van die jaar gewen het. Ons is trots om te sê dat dit ook die eerste jaarlikse Ignite and Revive-fees tesame met Trio se ope dag sal wees.

“Dit gaan ’n belewenis wees. Daarom nooi ons almal van oor Suid-Afrika heen om die feestelike geleentheid by te woon.”

Feesgangers sal elke dag van 08:00 af na die stalletjies van ’n verskeidenheid uitstallers met interessante produkte en dienste kan loer en ook plaaslike vermaak kan ervaar. Kinders sal na hartelus kan baljaar met al die vermaak wat spesifiek vir hulle aangebied word. Dit sluit in ’n vertoning deur Buster en Bella, gesigverf en ’n pretpark wat springkastele insluit.

Saans in die arena sal groot name soos Ruan Josh, Franja du Plessis, Bok van Blerk, Danny Smoke, Reën, Willem Botha, Kurt Darren en Refentse musiekliefhebbers op hul voete hou.

Feesgangers sal hulself in die geselskap van groot name in die vermaaklikheidsbedryf bevind, soos Werner Coetser en Reze-Tiana Wessels van Diepe Waters; David Viviers en Luandri Reynders van Binnelanders; asook Cedwyn Joel en Dean Smith van Suidooster. Dié sepiesterre sal as seremoniemeesters optree.

Boeresport sal aangebied word, daar sal veteraanmotor-uitstallings wees en die plaaslike sweeftuigklub sal ook vliegtuie uitstal.

Al die feesbedrywighede sal op die Hoërskool Trio se terrein plaasvind.

Die naweek sal op die Sondagoggend met lofsang en aanbidding, asook ’n dankdiens, afgesluit word.

Kaartjies word op iTickets.co.za verkoop. Dit sluit in naweekkaartjies en kaartjies vir dagbesoekers, asook die vertonings se kaartjies.

Die organiseerders bedank die volgende borge hartlik vir hul ondersteuning: kykNET Kwêla, KIA Makietie, die ATKV, Standard Bank, die Moqhaka-munisipaliteit, Theuns Jordaan (LMV Consulting Engineers), die Trio Hoërskool, Trio Primêr, die Arcadia-gastehuis, Sentraal24 en Overvaal Stereo, asook 40 ondernemings in Kroonstad wat hande vat om die geleentheid moontlik te maak en die sukses daarvan te verseker.

Van Pletzen sê die organiseerders is ongelooflik dankbaar vir die borge wat reeds aan boord is en vir dié wat daagliks bykom.

Kroonstad nooi alle belangstellendes uit vir die fees van feeste.

Die televisiespan van kykNET se Kwêla sal deur die loop van die KIA Makietie opnames maak.

Ruimte vir landboustalletjies is nog beskikbaar, belangstellendes moet net kennis dra dat dit beperk is.

Vir meer inligting omtrent die fees, of om ’n stalletjie te bespreek, stuur ’n e-pos na info@ignite&revive.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.