’n Nuutjie wag op Vrystaters wanneer die De Oude Kraal-landgoed en Sentraal24 kragte saamsnoer om ’n wildskosfees van ’n ander aard aan besoekers te bied.
Die fees, nou bekend as die WildsKOS-Gourmetfees, gaan op twee geleenthede – een in Junie en een in Julie – aangebied word om met Covid-19-regulasies in pas te bly.
Wat dié geleenthede van vorige feeste sal onderskei, is dat Marie Lombard, eienaar en voorslagsjef van die De Oude Kraal-landgoed, van die wildsvleis met die landgoedwyne gaan pas.
Besoekers wat deur die jare De Oude Kraal se gewilde kos-en-wyn-aande bygewoon het, sal weet dat Marie ’n baie fyn aanvoeling het vir hoe smake mekaar aanvul.
Geregte met wildsvleis soos blesbok, springbok, waterbok, koedoe en krokodil sal soos gewoonlik beskikbaar wees, maar vanjaar sal daar ook skaap-, bees-, vark- en hoendergeregte wees.
“Besoekers sal by die wynstalletjie ’n aanduiding kan kry van watter vleis- of ander gereg by ’n spesifieke wyn gaan pas,” sê Marie-Louise Nel, bestuurder van De Oude Kraal.
Die eerste geleentheid word op Saterdag 12 Junie gehou, waarop 11 landgoedere met ses wyne elk verteenwoordig sal wees, met unieke geregte en wildsoorte. Wynmakers sal na die fees kom om besoekers van die wyn te vertel en die wyn sal ook te koop aangebied word.
Die tweede geleentheid word vir Saterdag 3 Julie beplan, waar 12 ander wynlandgoedere verteenwoordig sal word.
Daar is net 500 kaartjies per geleentheid beskikbaar.
’n Bonus in aanloop tot die fees is resepte wat Marie en haar span met lesers op Bloemnuus se landingsblad op Netwerk24 deel. Die blad is gratis op Netwerk24 onder streeksnuus te sien.
Kaartjies, by De Oude Kraal beskikbaar, kos R550. Voorskoolse kinders kry gratis toegangis gratis, laerskoolkinders betaal R100 en hoërskoolkinders R250.
Rig navrae deur 051-564-0733 of 071-679-6596 te skakel.