“Trek daardie feesskoene aan en kom kuier saam met ons!”

Só nooi André van Pletzen, voorsitter van Ignite and Revive, in aanloop tot die tweede familiefees van dié gemeenskapsgroep in Kroonstad. Feesgangers van heinde en ver kan solank gereed maak om van 1 tot 3 September saam te kuier.

Die fees het verlede jaar ontstaan nadat Kroonstad Kwêlaop kykNet se Dorp van die jaar-kompetisie gewen het.

“Kroonstad het ’n voorbeeld vir Suid-Afrika gestel. Ons het bewys dat wanneer gemeenskapslede, die plaaslike munisipaliteit, owerhede, sakelui en boere van die omgewing saamwerk, daar ’n verskil in ’n dorp gemaak kan word,” sê Van Pletzen.

Dorpe van oor Suid-Afrika heen het by Ignite and Revive kers opgesteek. Die groep het ook belanghebbendes in verskeie dorpe gaan toespreek en die plan gedeel wat vir Kroonstad gewerk het.

Om die waarheid te sê, nege finaliste in vanjaar se Dorp van die jaar-kompetisie het vir leiding en inspirasie kom aanklop.

Van Pletzen sê dit is verstommend om te sien hoe Kroonstad se voorbeeld soos ’n veldbrand versprei het en hoeveel suksesverhale daar is van dorpe wat ’n verskil in daardie gemeenskappe maak.

Dit lê Ignite and Revive ook na aan die hart dat daar voortgebou sal word op die vooruitgang wat reeds gemaak is.

“Die Ignite en Revive-span het ’n dringende behoefte dat die hele gemeenskap van ons eens mooie dorp dit in hul hart sal vind om hande te vat en by heropbou betrokke te raak,” sê Van Pletzen.

“Daarom nooi ons graag alle medegelowiges om op Sondag 3 September ’n massa-kerkdiens by te woon waarop ons die Here sal loof en prys vir sy genade en sal saam bid om verandering te bring.

“Dit sal wonderlik wees as al ons plaaslike kerke net vir die een Sondag hul dienste kan verruil vir ’n gesamenlike gemeenskap-erediens op die terrein van North High School.

“Maak jul hart oop vir verandering in ons dorp, met ’n gesindheid van saamstaan en saamwerk – en kom aanbid saam met ons.”

Die fees, wat ’n finansiële inspuiting vir die dorp meebring, trek besoekers van oraloor.

Vanjaar se geleentheid beloof om nie teleur te stel nie en feesgangers kan uitsien na, benewens uitstallers wat iets vir elkeen se smaak bied, die produkte van sowat 30 entrepreneurs wat hul ware ten toon sal stel.

Die dekormark was verlede jaar gewild en bied vanjaar weer ’n groot verskeidenheid gehalte-artikels. Toegang tot die entrepreneurs se ware, die dekormark, asook ’n stylvolle teetuin met heerlike verversings, is gratis.

Ander attraksies sluit in uitstallings deur motorhandelaars en groot handelsname in die landboubedryf. Ou gunstelinge soos ’n groot klomp kosstalletjies, ’n biertuin en ’n jenewertent kan ook verwag word.

Gaskunstenaars sluit in Duane van der Berg & Okes en Carmen Basson, Jaco Bezuidenhout, Ricus Nel, Juanita du Plessis, Robbie Wessels, Armand Hofmeyr, Andriette Norman, Jo Black, Droomsindroom en Onbeskaamd.

Ignite and Revive bedank elke sakeonderneming, belanghebbende en borg.

“Ons wil niemand uitsonder nie, maar is dankbaar vir ons borge wat die fees moontlik maak, asook al die betrokkenes wat hard gewerk het om die fees te beplan en saam te stel.

“Ons is opgewonde om almal hartlik by die tweede Ignite and Revive-familiefees te verwelkom,” sê van Pletzen.

  • Feeskaartjies kan aanlyn of by Pick n Pay Panorama, The Interior Shop en Sernick Butchery & Deli gekoop word. Vir meer inligting stuur e-pos na info@ignite&revive.co.za. Hou ook VrystaatKroonen dié koerant se Facebook-blad dop.

You need to be Logged In to leave a comment.