Die Ignite and Revive-fees dra ‘n splinternuwe baadjie: as ‘n gratis, geloof-geïnspireerde naweek vir die wyer Kroonstad-gemeenskap.
“Vanjaar bied ons die Ignite and Revive- Christelike Fees aan, en die beste van alles is dit is gratis vir almal,” sê André van Pletzen, een van die feesorganiseerders. “Ons droom is om eenheid in Christus te bevorder en ons gemeenskap saam te bring rondom lofprysing, kultuur, kos en gemeenskaplike geloof.”
Terwyl kultuurliefhebbers na ATKV-produksies kan uitsien, sal stalletjies met Chris-
telike leesstof, musiek en inspirasie die terrein vul. Die teetuin, met uitsonderlike spyskaart, is weer oop; kosstalletjies bied weer lekkertes.
Musiek van bekende Christelike sangers sal vanaf die verhoog opklink, waaronder Ruan Josh, Jo Black, Ilán van Staden, Arnold de Wet en Moné van Jaarsveld. Die volledige program word binnekort op Ignite & Revive se sosialemedia-platforms bekend gemaak.
“Daarom nooi ons jou om ‘n borg te word en saam met ons te staan in die bou van eenheid in ons gemeenskap,” sê Van Pletzen. “Daar is geen sterker fondament om ‘n dorp te red nie as ware eenheid in Christus.”
Die gemeenskap word hartlik genooi.
“Toegang is gratis – bring net jou geloof, jou gesin en jou entoesiasme.”
Dié fees word van 29 tot 31 Augustus by die Kroonstad-selgemeente in Reitzstaat gehou.
Besoek igniteandrevive.co.za en volg Ignite & Revive op die sosiale media.