Fees bied ’n hupstoot

PG Strauss, besturende direkteur van die VKB-groep, nooi almal hartlik uit na die 43ste VKB Bieliemieliefees, wat van 23 tot 26 Februarie aangebied word.


PG Strauss, besturende direkteur van die VKB-groep, nooi almal hartlik uit na die 43ste VKB Bieliemieliefees, wat van 23 tot 26 Februarie aangebied word.

“Jaarliks is die Bieliemielie­fees ’n hoogtepunt op die kalender van die landbou­sektor, en dit is wonderlik om die landboubedryf deur middel van ’n fees te kan vier,” sê Strauss.

“Ons nooi almal om dié besonderse geleentheid by te woon.

“Ons is bevoorreg om van dag een af by die Bielie­mieliefees betrokke te wees, en dit is wonderlik om te sien hoe die fees deur die jare gegroei het. Verlede jaar was daar net ’n raps minder as 20 000 mense op die fees.”

Strauss sê die fees is belangrik vir die gemeen­skappe van die Oos-Vrystaat en dat die VKB-groep vir seker betrokke sal bly. Reitz is immers die hartklop van die groep.

Benewens die positiewe invloed van die Bieliemielie­fees op die landboubedryf, bied dié geleentheid ’n stewige ekonomiese inspuiting vir die plaaslike gemeenskap.

Die VKB-groep, in samewerking met Case IH, sal, byvoorbeeld, ’n volledige landbou-uitstalling aan besoekers bied.

Besoekers sal die nuustste landboutegnologie en tendense op die proef kan stel, en Case IH bied ook ’n verskeidenheid produkte, van klere tot speelgoed, te koop aan.

“Dit is lekker om mense landswyd by die feestelik­heid in die Oos-Vrystaat te verwelkom,” meen Strauss.

“Ons sien baie daarna uit om almal daar te sien.”

Die VKB-groep, wat die hoofborg van die fees is, maar beman ’n stalletjie waar besoekers met ’n heerlike bord potjiekos kan saamkuier.

You need to be Logged In to leave a comment.