Familiefees trek die gemeenskap saam

’n Groter en opwindende Ignite and Revive-familiefees beloof om nie teleur te stel nie.


’n Groter en opwindende Ignite and Revive-familiefees beloof om nie teleur te stel nie.

Mense kan hul feesskoene afstof om van Vrydag 30 Augustus tot Sondag 1 September by die North High School (ou Rooiskool) in Kroonstad behoorlik te kom feesvier.

Iets vir elkeen

Hope pret vir oud en jonk is op die feesprogram met ’n verskeidenheid aktiwiteite, insluitend musiek deur bekende kunstenaars, kindervermaak, ATKV-verhoogproduksies, ’n danskompetisie met dansers van skole van oor die provinsie heen, sport en ’n verskeidenheid stalletjies insluitend ’n dekormark en teetuin.

’n Tentoonstelling van plaaslike kunstenaars se kunswerke is ook op die program

“Die Ignite en Revive-fees het aanvanklik ontstaan nadat Kroonstad in 2022 Kwêla op KykNET se Dorp van die Jaar-kompetisie gewen het.

“Die fees is om ons fenomenale gemeenskap en dorp jaarliks te vier en natuurlik om aan die gemeenskap en besoekers heerlike vermaak te bied,” sê André van Pletzen, Kroonstadse sakeman, lid van die Ignite and Revive-groep en een van die feesorganiseerders.

Vir die sportgeesdriftiges

Vanjaar spog die fees met heelwat nuwe toevoegings. Een hiervan is die Kroonstad Tens-sporttoernooi, waarin rugby- en Fast Five-netbalspanne gaan kragte meet.

’n Five-a-side mini-sokkertoernooi beloof ook groot opwinding. Hierdie buitemuurse sportaktiwiteit is ’n groot trekpleister op die program.

Ook ’n 5 km-pretloop word in samewerking met die Kroonstad-multisportklub aangebied.

Vir diegene wat verkies om eerder met hul gesinslede en vriende dinge uit te spook, is daar die Fun Shoorts-uitdaging waarin daar deur middel van speletjies en aktiwiteite kragte gemeet kan word.

’n Boogskietkompetisie geskik vir deelnemers van alle vaardigheidsvlakke, sal ook aangebied word.

Feesgangers wat dan ná die dag se sportaktiwiteite wil ontspan, kan die Springbokke se rugbywedstryd teen die All Blacks op ’n groot skerm op die feesterrein kyk. ’n Biertuin met verversings is naby die sportvelde en voor die arena se verhoog geleë. Feesgangers kan dus wedstryde, asook kunstenaars se optredes, geniet terwyl hulle hier kuier.

Landbou is lekker

Verskeie landbou-kompetisies sal plaasvind op die Trio-landbouterrein en North High School. Dit sluit in ploeg, skaapskeer, wolhantering, en veevertonings. Hierdie aktiwiteite begin vroegoggend en sal heeldag duur.

Ten slotte

Die fees sal soos oudergewoonte met lofprysing en aanbidding afgesluit word. Die diens word deur ds. Christo Weideman gelei.

Maak ’n verskil

Ignite and Revive sê buiten vermaak is die hoofdoel van die fees om die gemeenskap saam te bring en só ’n positiewe bydrae tot die ontwikkeling van die dorp en sy mense te lewer.

Hierdie organisasie hou die dorp skoon, verrig opknappingswerk, is passievol oor werkskepping en het verskeie projekte in die gemeenskap.

Die feeskomitee spreek sy dankbaarheid uit teenoor elke borg wat dit moontlik maak om vanjaar se fees aan te bied.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.