Familie treur: Ma sterf op pad na dogter se matriekafskeid

’n Ma van drie is in ’n motorongeluk dood op die dag van haar jongste dogter se matriek­afskeidgeselligheid.


’n Ma van drie is in ’n motorongeluk dood op die dag van haar jongste dogter se matriek­afskeidgeselligheid.

Doré du Toit (44), ’n oud-Bethlehemiet, en haar twee dogters, Dorijke (21) en Evané (18), was op Vrydag 20 September op pad van Lavender Hill buite Bethlehem, op die N5-roete, toe die ongeluk plaasgevind het.

Dit was Evané, ’n leerling aan en onderhoofmeisie van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, se matriekafskeid Vrydag.

“Evané en Dorijke het hul hare by ’n haarsalon by Lavender Hill laat doen en was op pad terug om klaar te maak vir die matriekafskeid toe die ongeluk plaasgevind het.

“Niemand is 100% seker presies hoe die ongeluk gebeur het nie,” sê Drice Rossouw, Doré se stiefma, wat namens die familie met VrystaatKroongepraat het.

Volgens polisiewoord­voerder AO Mmako Mophiring het die ongeluk Vrydag tussen 16:00 en 17:00 op die N5-roete buite Bethlehem plaasgevind.

Doré se Toyota-voertuig het teen ’n aankomende wit bakkie met ’n sleepwa gebots.

Sy is op die ongelukstoneel dood verklaar.

Haar twee dogters ontvang mediese behandeling by die Dihlabeng-hospitaal in Bethlehem. Hul toestand is stabiel.

Dorijke is ’n dramastudent wat in Pretoria studeer en was Vrydagaand in die gewilde sepie Binnelanders te sien, en sy het ook al haar buiging in Diep Watersgemaak.

Sy was ook in 2021 in die verhoogproduksie Duiwelsdans te sien.

Drice beskryf Doré as liefdevol, ’n baie goeie ma en ’n diep gelowige mens wat vir haar kinders geleef het.

“Sy het ’n pad met die Here gestap.”

Doré het die afgelope paar jaar in George gewoon en was in Bethlehem vir Evané se matriekafskeid.

Sy word oorleef deur haar twee dogters; haar seun, Rossouw (14); haar pa, Ben Rossouw; haar stiefma; en haar broers, JJ en Pienaar Rossouw.

Geen begrafnisreëlings was reeds getref teen die tyd dat VrystaatKroon gedruk het nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.