In Psalm 104:24 praat God deur sy skepping: U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep.
Vers 31 lui:Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie. Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf.
Die Amerikaanse skrywer Annie Dillard se swaer is ’n paar dae voor sy huwelik met leukemie gediagnoseer.
Hy is drie jaar later oorlede.
Vir Annie was dit ’n bekommernis om agter te kom hoe sy in hierdie tyd met haar suster, wat nie in God geglo het nie, oor God kon praat. Sy het eindelik besluit om ’n boek, Pilgrim at Tinker Creek, te skryf oor hoe God se stem in sy skepping gehoor kan word.
Die boek is ’n versameling vertellings oor die natuur wat mense help om hul oë te gebruik wanneer hulle deur God se skepping stap.
Annie is met die gesogte Pulitzerprys vir haar boek bekroon, toe sy nog in haar twintigerjare was.
“Dis als net ’n geval van jou oë oophou,” skryf sy.
“Skoonheid en genade is daar, of ons dit raaksien of nie. Die minste wat ons kan doen, is om daar te probeer wees, sodat die skepping nie voor ’n leë teater hoef te speel nie.”
So het ’n ene George MacDonald ook op ’n keer gesê: God se vingers kan niks aanraak sonder dat dit in ’n voorwerp van skoonheid omskep word nie.
In elke stukkie van die natuur is daardie skoonheid wat net God daar kan stel, en so praat Hy met elkeen van ons. So word God se teenwoordigheid by ons bevestig.
- De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.