Die grafte by Heilbron se konsentrasiekamp was onlangs ná mildelike reën onder water weens ’n gebrekkige dreineringstelsel.
Op 25 Januarie het die kwessie onder AfriForum, die FAK en die Erfenisstigting se aandag gekom toe ’n inwoner van die dorp, Danie Knoetze, foto’s van die grafte aangestuur het.
Blykbaar het die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit mense lukraak rondom die konsentrasiekampgrafte begin begrawe, en het die nuwe grafte ’n “wal” gevorm wat veroorsaak dat water nie kan wegvloei nie.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is Jan-Danie Malan van die FAK en Jaco Cilliers van die Erfenisstigting oor die voorval gekontak.
Malan is onmiddellik na Heilbron, waar hy hulp aangebied het.
Knoetze het ’n pomp beskikbaar gestel om die derduisende liters water uit die begraafplaas te pomp, terwyl AfriForum onderneem het om die koste daarvan te dra.
Volgens Quarta Pretorius, ’n inwoner van Heilbron en ’n bekende in kultuur- en erfeniskringe, is dit jare lank al ’n probleem wat telkens onder die munisipaliteit se aandag gebring is. Tot op hede is niks aan die saak gedoen nie.
“Toe ek die berig en foto’s van hierdie ramp ontvang, het ek dit dadelik aan Bruce Kannemeyer, munisipale bestuurder, en Francis Moeketsi, bestuurder in Heilbron, gestuur en gevra waarom dit so lyk, maar het geen terugvoering ontvang nie.”
Die organisasies beywer hulle nou daarvoor om die voorval met die plaaslike munisipaliteit te bespreek om sodoende ’n moontlike oplossing te vind.