’n Erfenisfees word van 23 tot 25 September deur die Rapportryerskorps van Bethlehem en ander kultuurorganisasies by die Bethlehem-museum in Mullerstraat aangebied.
Vermaak sluit in boeresport, jukskei, kettieskiet, ’n kloskantwerk demonstrasie, room afskei en botter maak, koring stamp, klei-osse maak, koffiebone maal en rooster, kerse maak, tonteldoos, rieme brei en sweepvleg en klap.
Oud en jonk is welkom. Toegang kos R10 per persoon wat toegang tot die museum en die meeste van die aktiwiteite insluit. Daar is 12 kampeerstaanplekke teen R50 per staanplek beskikbaar.
’n Dansparty met die Wakis-boereorkes begin Vrydag (23/09) om 19:00. Net 100 kaartjies, teen R60 per persoon, is beskikbaar. Besoekers kan ’n mandjie met eet- en drinkgoed en stoele saambring.
Die aand word met saamsing en kuier om die kampvuur afgesluit. Vir besprekings en kaartjies bel Pieter Olivier by 082-293-0680.
Saterdag om 08:00 kan besoekers tradisionele uitstallings, aktiwiteite en etes uit die Afrikanerkultuur geniet. Sondag (25/09) om 07:00 sal moerkoffie en beskuit bedien word en ds. Gideon Lamprecht sluit die naweek af met ’n oordenking. Rig navrae aan Danie Eichstädt by 082-336-2353.