Engele maak verskyning in boek

In die boek Ek het ’n engel gesien van die voormalige RSG-aanbieder Amore Bekker, is een van Kroonstad se eie engelstories opgeneem.


In die boek Ek het ’n engel gesien van die voormalige RSG-aanbieder Amore Bekker, is een van Kroonstad se eie engelstories opgeneem.

Bekker se boek is ’n samestelling van luisteraars se stories wat handel oor die onsigbare en ontelbare wonderwerke in mense se lewe, wat elke leser óf verstom óf geïnspireerd sal laat.

Die 25-jarige Heléne Leonard, ’n boorling van Kroonstad, word ervaar as ’n lewende bewys van God se nimmereindigende krag.

Sy is op 33 weke sterwend gebore ’n swak baba wat ’n lang herstelpad moes deurmaak. Direk ná haar geboorte het sy ’n lewensreddende hartoperasie ondergaan en daar was tye dat dit gelyk het of sy nie die kritieke stadiums sou oorleef nie.

Haar ma, Nerine, het Heléne onverpoos jaar ná jaar vir mediese advies en evaluasie geneem.

Die kans dat die vroeggebore baba ’n normale sou lewe lei, was egter baie skraal.

“Sy het alle verwagtinge oortref en met die Here se groot genade het Heléne uiteindelik ’n 100% gesonde baba geword,” sê Nerine.

Op ongeveer driejarige ouderdom het Nerine eendag op Heléne afgekom waar sy hartstogtelik huil. Heléne het aan haar ma vertel dat sy Jesus mis, asook hoe hy haar vasgehou het.

“Ek het op die plek besef dat Heléne nie op haar eie die uitdagings in die hospitaal oorleef het nie, maar dat Jesus haar beskerm het en vasgehou het in daardie tyd.”

Die wonderwerkstorie is een van baie engelstories wat in Bekker se kortverhaalbundel gepubliseer is.

Heléne het haar intussen as ’n joernalis bekwaam en ’n honneursgraad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Sy het ook professionele opleiding in klassieke sang ontvang.

Sy glo dat sy ’n betekenisvolle lewe moet lei en ander moet help, aangesien Jesus se liefde en ondersteuning haar gered het.

As joernalis is sy besig om mense se stories neer te pen in die hoop om ook op só ’n manier ’n verskil in ander se lewe te maak en Jesus se liefde terug te ploeg.

Heléne Leonard

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.