Tienduisende Suid-Afrikaners in die buiteland het hul kruisies in die nasionale verkiesing getrek.
Die Verkiesingskommissie (OVK) het bevestig sowat 78 000 Suid-Afrikaners het hulle vooraf geregistreer om by 111 stempunte in die buiteland te stem – onder meer in Australië, Kanada, Amerika, die Verenigde Koninkryk, Nederland en lande in die Midde- en die Verre-Ooste.
In Londen was die opkoms so groot dat kiesers glo tot vier uur lank in die tou gestaan het.
’n Suid-Afrikaner wat in Skotland woon en werk, het vier uur per trein tot in Londen gereis om te stem. Hy het glo R3 540 vir die treinkaartjies opgedok.
Nog ’n Suid-Afrikaner, wat in Suid-Korea woon en werk, het altesaam drie uur gependel na en van die stempunt in Seoel; waar glo geen gewag nodig was nie.
In Suid-Afrika kry kiesers geleentheid om op Woensdag 29 Mei hul kruisies te trek.
Hier is in elke wyk ’n stempunt.
Vanjaar se nasionale verkiesing word as die belangrikste sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 beskou.
Moet stemdag nie net as ’n vakansiedag beskou nie.
Om ’n Suid-Afrikaner wat in Viëtnam woon aan te haal: “As jy nie stem nie, kan jy nie kla nie, want jy het self niks gedoen vir verandering nie.”