Die Make Bethlehem Beautiful-gemeenskapsorganisasie is besig om Bethlehem stadig maar seker te laat herleef te wille van die gemeenskap en hul dorp. Hulle missie is hoofsaaklik om die Bethlehem-gemeenskap weer trots te maak om op die dorp te woon.
Op die Make Bethlehem Beautiful Facebookblad skryf die stigters die volgende: ” In ‘n wêreld wat reeds vol negatiwiteit is, kies ons ‘n ander pad. Hier fokus ons op positiwiteit, gemeenskap en oplossings. Ons glo dat wanneer ons almal saamstaan met oop harte en hande gereed om te werk, ons ‘n dorp kan skep wat skitter – een waarop mense trots is om dit hul tuiste te noem, en om buitestanders te laat droom om in te trek.”
Die organisasie is amptelik in April op die been gebring nadat twee gemeenskapslede sedert verlede jaar Augustus in samesprekings was oor hoe om nuwe lewe in Bethlehem in te blaas asook oor hoe om die dorp te herstel tot sy eerstydse glorie.
Jacques Windt (sakeman) en Lourens van Tonder (entrepreneur) van Bethlehem, het sedert verlede jaar koppe bymekaar gesit en strategie bespreek om Bethlehem te laat herleef.
Deur die inistiatief wil hulle nie net fokus op herstelwerk in en om Bethlehem nie, of om slaggate te vul en rommel te verwyder nie, maar ook om werkskepping te bewerkstellig en om misdaad te bekamp.
Nadat daar ‘n Facebookblad gestig is het verskeie sakeondernemings en privaat indivudue kom aan klop om te hoor hoe hulle by die organisasie betrokke kan raak. Dit het hulle genoodsaak om op Dinsdag, 27 Mei ‘n vergadering saam te roep om aan die gemeenskap hulle plan vir Bethlehem se herlewing voort te stel.
“Ons was uit die veld geslaan toe bykans 150 mense die vergadering bygewoon het en die terugvoer was absoluut positief,” sê Van Tonder.
André van Pletzen, sakeman en stigterslid van Ignite & Revive- groep van Kroonstad het as gasspreker opgetree. Hy het vertel hoe Kroonstad met hulle herlewingsplan opgekom het en steeds volghoubaar toe pas en deurmiddel daarvan ook die Kwêla Dorp van die Jaar-titel kon wen.
“Dit is vir ons belangrik dat die gemeenskap inkoop by die projekte om so ‘n daadwerklike verskil te maak op ons dorp. Onthou elke klein biedjie help al begin jy net om voor jou eie huis skoon en netjies te maak. Ons is opreg dankbaar vir almal wat reeds betrokke is en nooi ook almal wat betrokke wil raak om ons te kontak,” sê Windt.
Die organiseerder moedig mense aan om betrokke te raak sodat Bethlehem ook kan inskryf vir die 2026 kykNET Kwêla Dorp van die jaar-kompetisie en om die geskiedkundige Oos-Vrystaat dorp weer nuwe lewe te gee.
Vir meer inligting of hoe om ‘n bydrae te maak besoek die Make Bethlehem Beautiful Facebookblad of skakel Windt op 073 249 1330 of vir Van Tonder op 082 473 4513.