Onlangs was ek geëerd om ’n skool se glansryke prysuitdelinggeleentheid by te woon.
Kinders, elkeen talentvol in hul eie reg, is vir uitstekende prestasie met trofeë en sertifikate vereer, en hulle verdien beslis ’n “high five” vir wat hulle bereik het.
Aandagtig sit en luister ek na die kinders se prestasies en hou elke kind dop terwyl hulle hul eerbewyse ontvang. Dit sit my gedagtes aan die gang.
Ek wonder oor hoeveel kinders met uitdagings worstel, maar nogtans skool toe gaan en goed presteer?
Ek haal my hoed af vir die kinders wat kilometers ver moet loop of wat getrou skool toe gaan op ’n leë maag.
Die kinders wat moeilike huislike omstandighede met ’n glimlag verbloem en hul beste gee.
Kinders wat onnodig verniel of te na gekom word, maar steeds skool bywoon – soms omdat dit hul enigste veilige hawe is.
Die kinders wat siektes en ander mediese uitdaging moet trotseer, of selfs ’n ouer of ’n geliefde familielid aan die dood moes afstaan.
Ek salueer elkeen van die kinders wat te midde van watter uitdagings ook al, steeds skool bywoon en hul beste gee.
Hulle verdien nie net ’n klop op die skouer nie, maar verseker elkeen ook die grootste en blinkste trofee wat daar is.
Julle is wenners!
Ons is diep dankbaar vir die veilige hawe wat skole bied, asook die ondersteuning wat kinders ontvang; daar waar hulle ’n paar uur per dag weet hulle is veilig.
Personeel, en almal wat by skole betrokke is: Ons is dankbaar vir die ongelooflike groot rol wat julle in elke kind se lewe speel. Doen so voort.