Nadat hy die laaste episode van die werklikheidsreeks Boer soek ’n Vrou gekyk het, het ’n vriend van my – self ’n boer – iets te sê gehad.
In sy oorwoë mening moet die boere wat deelneem na net een kwaliteit by die dames kyk: Iemand met plat knieë wat weet van bid.
Volgens hom is mooiwees en oulikwees goed; die moets en moenies ’n bysaak. Maar een vraag is die belangrikste: Kan sy bid?
Wanneer die boere hul briewe ontvang, laat dit hulle miskien vir ’n vlietende oomblik dink aan koeitjies wat oor die maan spring, blink sterre in die oë en gediggies wat rym met liefie en diefie.
Tog, wanneer die harde werklikheid op ’n plaas toeslaan, is die koei in die kraal en hoort ’n dief agter tralies. Hy sê dit tong in die kies, natuurlik, maar my vriend raak ’n groot waarheid aan.
’n Groot wanopvatting heers oor boerdery, veral onder mense wat niks van die bedryf weet nie. Dit is dalk waarom die landboubedryf so vatbaar is vir politieke opportunisme. Mense reken as jy grond het, is dit maklik om geld te maak. Tog weet ons dit is nie so eenvoudig nie.
’n Moderne boer wat suksesvol wil wees, moet daagliks verskillende mantels aantrek.
Hy of sy moet die rol van ekonoom, weervoorspeller, wetenskaplike, werktuigkundige, leier, vredemaker, dominee, prokureur, veearts, landboukundige, onderhandelaar, mensekenner, kundige op sy gebied, werkgewer, versorger, rekenmeester, innoveerder en entrepreneur – om maar net ’n paar op te noem – vertolk.
Om ’n boer te wees is in die bloed; ’n roeping wat onwrikbare geloof vereis. ’n Vertroue dat alles sal uitwerk. Ondanks uitdagings soos droogtes, springkaanplae, veediefstal of die bankbestuurder wat sy kop skud.
Om ’n boer te wees verg somme maak as die mielieprys in ’n goeie oesjaar val en as die middelman en kleinhandelaars al hoe minder vir produkte wil betaal.
Boere is spesiale mense. Hulle loop voor en stel ’n voorbeeld. Hulle maak planne. Hulle ken van aanhou en uithou.
Dankie aan al die boere. Mag die jaar vir julle minder intens en traumaties wees as vorige jare. Mag julle sukses behaal.
En mag iemand met plat knieë langs julle bid.