Sou hierdie tyd van die jaar in ’n skildery uitgebeeld word, reken ek dat dit ’n abstrakte kunswerk met hordes verskillende kleure gespat op ’n doek sou wees, met dalk ’n tikkie meer swart as gewoonlik.
Soos almal weet, voel ons die uitdagings en opwinding van nog ’n jaar van hoogte- en laagtepunte kou aan die gebeendere. ’n Baie dramatiese jaar waarin die gemoedere soms swaar en oorweldig was.
Dit is wel goed om te weet die feestyd is amper op hande, waartydens die meeste mense darem die kans gegun word om te ontspan.
Ek wil met alle mag my Kersversierings uitpak en dreig al van middel November af om dit te doen – dit lig gewoonlik klaar die gemoed en maak my opgewonde – seker omdat ek maar self ’n bietjie oorweldig voel en met emosies soos die gevreesde leënes -sindroom moet saamleef.
Jip, die jongste gaan die nes verlaat. Dié werklikheid is besig om in te skop en die tyd loop al hoe vinniger. Ek is eintlik benoud.
Dan bekommer ek my nog oor Kersversierings, waarmee ek eintlik die regte emosies probeer verbloem.
Kundiges reken wel dat ’n mens eerder die rou en ware emosies, goed of sleg, trompop moet loop. Kry dit uit jou gestel. Natuurlik makliker gesê as gedoen. Jip, ek weet jy stem saam met my.
Kundiges sê gaan praat met ’n spesialis soos ’n sielkundige of berader, of ’n vriendin. Maar hulle vergeet jy kry skaars tyd vir asemhaal. Wanneer moet jy tyd maak vir dié soort afsprake?
Dan sê hulle ook gaan oefen, of pen jou emosies op papier neer.
Nou ja toe, oefen was nog nooit hoog op my prioriteitslys nie. Ek reken ek is so gebore. Dalk het ek jare gelede ’n liefde daarvoor gehad, of was dit noodgedwonge?
Daarom pen ek maar hier vir julle ’n stukkie emosie neer. In die hoop om te sê: Jy is nie alleen nie.
Ek glo die meeste van ons is oorweldig en sukkel dié tyd van die jaar met verskeie emosies.
Sterk staan, ons sal ook hierdeur kom.