Drie jaar nadat ’n Kroonstadse onderwyser en haar tronkbewaarderman saam met nog drie mense van veediefstal aangekla is, is die verhoor op Dinsdag 19 Januarie uitgestel omdat die egpaar glo siekerig voel.
’n Omgekrapte boer, Sylvanus Watson, sê boere wag al lank op geregtigheid en nou is die verhoor uitgestel omdat mense moontlik die pandemie uitbuit.
Die saak is voorheen van die rol geskrap omdat daar gesê is die DNS-bewyse het verdwyn.
Dié bewyse is egter weer gevind en die saak is heropen.
Sello Mothobi (55), sy vrou, Matsidiso (53), en drie mans is op 8 Januarie 2018 deur boere in hegtenis geneem nadat 16 geslagte skape in die Mothobi-egpaar se motor gekry is.
Die ander beskuldigdes, wat die skape glo geslag het, is Alfonse Mofokeng (38), Samuel Montsehehi (46) en Geelbooi Tsekeli (28).
Net in die tydperk van 2013 tot 2016 is vee ter waarde van R6 miljoen in die Steynsrus-distrik gesteel.
Watson sê dieselfde metode is elke keer gebruik om die vee te steel en dit het lank geneem voordat die beskuldigdes aangekeer is.
Hy sê boere in die gebied het gedurig onder veediefstal deurgeloop, wat ná die inhegtenisnemings bykans tot ’n einde gekom het.
Vyf boere is klaers in die saak en die beskuldigdes word aangekla van veediefstal, betreding en sindikaatbedrywighede.
Die egpaar se regsverteenwoordiger sê die egpaar voel siekerig en kan dalk die koronavirus hê.
Watson sê die beskuldigdes se regspan kon die hof vooraf ingelig het. Boere ry onnodig hof toe, en die staat moes meer as R1 000 se reiskoste aan getuies uitbetaal.
Die verhoor is tot Dinsdag (02/02) uitgestel.