Een van Bethlehem se welbekende egpare, wat vir meer as 48 jaar diep spore in die gemeenskap gelaat het, groet om hulself in Bela-Bela te vestig.
Pieter en Eréne Olivier het sedert 1974 hul stempel afgedruk in Bethlehem, waar hulle gewoon en gewerk het.
Dit was veral hul betrokkenheid by die plaaslike gemeenskap, deur met verskeie projekte leiding te neem, wat van hulle in murg en been Bethlehemiete gemaak het.
“Uit die aard van my werk by die Bethlehem-stadsraad was ons genoodsaak om by verskeie projekte in die gemeenskap betrokke te raak,” verduidelik Pieter.
“Só het ons dan vele vriende gemaak, en ons het bykans al die inwoners van Bethlehem op ’n persoonlike vlak leer ken.”
Die Sonskyn-volkspelelaer en die Bethlehem-museum, waar hulle hulself deur betrokkenheid uitgeleef het, sal hulle altyd na aan die hart lê.
Die egpaar se seun, Chris, is op 16 November verlede jaar oorlede, en dit het bygedra tot die besluit om hulle in Bela-Bela te gaan vestig, waar hul dogter, Renette van Niekerk, woonagtig is.
Die egpaar wens al die besonderse mense wat hulle leer ken het die Here se seën toe, en hulle sê hulle gaan die Bethlehemiete mis.
“Ons is ongelooflik dankbaar vir al die wonderlike geleenthede en seëninge wat die Here ons hier in Bethlehem gebied het.
“Ons gaan swaar hier weg.”