Een van Kroonstad se oudste inwoners Tannie Anna Serfontein (102) is op Dinsdag 21 Mei aan natuurlik oorsake oorlede.
“My skoonma het vir ‘n rukkie lank met haar gesondheid gesukkel ná ‘n rugbesering en het nooit 100% weer herstel het nie,” sê Maryna Serfontein, haar skoondogter van Kroonstad.
Tannie Anna was die oudste lid van die Vrouelandbou-unie (VLU) se Kroonstad-tak en was tot met haar afsterwe ‘n lid van die organisasie. In haar tyd as aktiewe lid het sy talle pryse en eerbewyse vir haar naald-, brei- en kwiltwerk verower.
Op 96 jaar oud haar laaste kwilt gemaak en sy sou seker met dié tydverdryf aangehou het as dit nie vir haar verswakte sig was nie.
Haar kinders, kleinkinders asook agterkleinkinders is almal met haar handwerk bederf.
Sy het op die plaas Welgemoed in die Tweeling-distrik groot geword en het haar skoolloopbaan aan die Swartwater-plaasskool begin en aan die Laerskool Tweeling voltooi. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, wat onlangs ook op sosiale media hulde aan hul langslewende oudleerling gebring het.
Ná skool het sy haar as onderwyser aan die destydse onderwyskollege in Bloemfontein bekwaam. By ‘n plaasskool in die Reitz en Petrus Steyn-distrik het sy haar loopbaan as onderwyser begin. Sy ontmoet haar man Jan Lodewyk Serfontein, wat 19 jaar ouer as sy. Hulle is kort daarna in 1944 getroud.
Hulle het hulself op die plaas Serfontein in die Koppies-distrik gevestig waar hulle vir jare lank geboer het tot in 1986 met hul aftrede. Uit die huwelik is twee kinders gebore hul dogter, Bets Huyser (77) en hul seun, Serf Serfontein (72).
Tannie Anna word beskryf as ‘n knap, handige en spitsvondige vrou wat altyd die positiewe in die lewe raak gesien het.
Haar gunsteling-sêding was, “hou op kerm dit maak jou oud.”
Haar familie sal haar verseker onthou vir haar soms komiese sêgoed en dat sy nie geskroom het om ‘n saak reguit aan te spreek nie.
Sy word oorleef deur haar dogter, seun, skoondogter Maryna, vier kleinkinders en sewe agterkleinkinders.
Tannie Anna se gedenkdiens sal Sondag 26 Mei om 12:00 by die Arboretum-tehuis vir bejaardes, waar sy vir die afgelope agt jaar woonagtig was, plaasvind.