’n Emosionele dag het hom by die Bethlehem-streekhof afgespeel toe een van die twee beskuldigdes in die voorval van onwettige oproer in Senekal tydens die Bredin Horner-hofsaak aan openbare geweldpleging skuldig bevind is.
André Pienaar (53) is Donderdag (24/03) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis en sal effektief tien maande hiervan uitdien, terwyl SJ Fourie (34) op alle aanklagte teen hom vrygespreek is.
Altwee beskuldigdes het op verskeie aanklagte, onder meer dié van openbare geweldpleging, tereggestaan nadat daar in Oktober 2020 by die Senekal-landdroshof chaos uitgebreek het.
Pienaar, wat op aanklagte van openbare geweldpleging, poging tot moord, opsetlike saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer tereg gestaan het, is net op een aanklag, dié van openbare geweldpleging, skuldig bevind.
Adv. Wayne Gibbs, vir die verdediging, het ter strafversagting Pienaar se verklaring aan die hof voorgelê en gesê dat Pienaar aanvanklik nie die dag die hofverskyning van die verdagtes in die Brendin Horner-moordsaak sou bywoon nie. Hy is wel hof toe en was deel van ’n groep wat die hofgebou op soek na die verdagtes binnegestorm het en skade aan die hofgebou en staatsbates aangerig het.
Gibbs het ter versagting aan streeklanddros Phumeza Mcilongo gesê dat die gebeure teen ’n polities sensitiewe agtergrond afgespeel het en dat Pienaar nie gewapen was nie.
Aanvanklik het die Valke se ondersoekspan beweer dat Fourie, wat tydens die moles by die hof ’n stuk lap in sy hand gehad het, die lap sou gebruik om ’n brand te stig, maar weens weersprekende getuienis is die klagte teen hom teruggetrek.
Francois van der Merwe, van die Bittereinders, en Willem Petzer, ’n onafhanklike aktivis, het die mans met die verhoor bygestaan.
Petzer het in ’n video op die sosiale media gesê bykans R400 000 is vir die regsfonds van Pienaar en Fourie ingesamel, waarvan ongeveer R200 000 vir regskoste aangewend is. Die res van die geld sal vir die versorging van die Pienaar-gesin aangewend word. Pienaar is ’n boukontrakteur van Senekal.