Een storie sit talle hoede op vir wye vreugde

Jeannie Burke, ’n bekende Kroonstadter en oud-onderwyser, het ná haar aftrede kinderboeke begin skryf en laat waai boonop met bydraes tot die kommunikasie van die Ignite and Revive-groep.


Jeannie Burke, ’n bekende Kroonstadter en oud-onderwyser, het ná haar aftrede kinderboeke begin skryf en laat waai boonop met bydraes tot die kommunikasie van die Ignite and Revive-groep.

As voormalige Engels-onderwyser met ’n liefde vir tale, wat passievol oor interkulturele kommunikasie is, het die 69-jarige Burke ná haar aftrede besluit om die pen op te neem en haar droom van kinderboekskryf te bewaarheid.

In 2021 het die boeke Waar is Wollebol? en Where could Fluffery Be? die lig gesien.

Benewens die skryfwerk het Burke die illustrasies behartig, en die boeke is deur Naledi Pers gepubliseer.

Intussen het sy ’n span vertalers uit verskeie oorde betrek om die stories in Sotho, Tswana, Xhosa en Zoeloe te vertaal. Dié boeke sal later vanjaar uitgegee word.

“Die illustrasies word telkens by elkeen van die onderskeie kultuurgroepe aangepas, en die boekies is baie lesersvriendelik. My grootste kliënt is tans die Fezile Dabi-streeksbiblioteek, wat sterk aanklank by die boekies vind,” sê Burke.

Jeannie Burke (69), ’n oud-onderwyser van Kroonstad, skryf deesdae kinderboeke wat baie gewild is onder jong lesers.Foto’s: Verskaf

Die storielyn handel oor ’n meisie wie se hanslam soek raak. Sy en haar hond begin ’n soektog waarop hulle baie nare, maar ook gawe, mense ontmoet.

“Die driedimensionele effek wat in die boekies verkry word deur die illustrasies met teken-, verf- en plakwerk te skep, laat kinders graag voel aan die bladsye – of met hul hand daaroor streel. Baie klein kreatuurtjies soos besies, bye en spinnekoppe behou ook hul aandag.

“Ouers kan aan hul kinders voorlees, maar die boeke is geskik vir lesertjies tussen die ouderdom van sewe en tien jaar.”

Burke se betrokkenheid by Ignite and Revive, ’n groep wat hom vir die opheffing van Kroonstad en dié gemeenskap beywer, het op ’n Sondag ná kerk ontstaan toe sy al die plekke afgeneem het wat die groep opgeknap het. Sy het die foto’s vir André van Pletzen, wat aan die stuur van die groep staan, gestuur en hy het haar genader en betrek.

“Hoe meer ek van die sakelui en die munisipale bestuurders te wete gekom het, hoe meer het ek besef hier is ’n vlam van hoop wat hoog brand. Die vlam steek ook landwyd ’n gevoel van samehorigheid aan die brand. Dit maak my opgewonde vir ons toekoms.”

Wanneer Burke by ontspanning uitkom, stap sy graag of speel klavier. Een keer per week besoek sy ook ’n groep kinders saam met wie sy lekker kan lees, verf en plak.

Die Illustrasie is van ‘n Zoeloe maaitjie se soektog deur landerye en plantasies, waar sy verskeie groepe mense raakloop – soos hierdie groepie waterskeppers by die rivier.Foto:

Burke en haar man, Edward (72), ’n afgetrede prokureur, woon al jare langs die Valsrivier in Kroonstad. Die twee het ontmoet terwyl hulle saam regte studeer het en vuurvreter-politikusse was.

Benewens ’n regsgraad het Burke ’n honneursgraad in kommunikasiekunde met lof behaal, en sy het etlike jare daarna vir die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) as eksterne nasiener en moderator opgetree.

Later het sy ’n onderwysgraad behaal en bykans 25 jaar lank kinders van Kroonstad in Engels as huistaal onderrig.

“As onderwyser wou ek nie net die liefde vir taal aanwakker nie – ek het ook probeer om interkulturele bewussyn en verdraagsaamheid by leerlinge te skep.”

  • Belangstellendes kan die boek by Burke bestel. Rig navrae of plaas bestellings by 071-075-7759.

Dié illustrasie is uit die boek Waar is Wollebol? Hier ontmoet Katrienkie vir Karolus, wat help soek na Wollebol.

You need to be Logged In to leave a comment.