Is ons werklik veilig?
Dit is iets waaroor baie mense hulle bekommer. Hoe veilig is ek wanneer ek snags slaap? Hoe veilig is ek op die pad? Hoe veilig is ek wanneer ek in die kerk sit? Hoe veilig is my kinders wanneer hulle skool toe gaan? Wat moet ek doen om ware veiligheid te kry?
Lemmetjiesdraad span? ’n Alarm laat aanbring? ’n Vuurwapen dra?
Gee maar toe, die lewe is op sy beste onveilig. Daarom klink die belofte van veilige bewaring juis vir die mens so troosryk.
Die psalmdigter raak liries daaroor:
- Psalm 91:7 – Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.
- Psalm 121:5-8 – Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.
Dit beteken nie noodwendig bewaring vir gesondheid en menslike voorspoed en sukses nie. God bewaar die mens nie soos ’n glaspoppie in ’n glaskassie nie.
Op weg na die veilige hawe waar sy erfenis wag, ly die mens soms skipbreuk, maar God bewaar hom sodat hy wel daar kom, al is dit klouende aan die laaste wrakstukke. God bewaar hom vir sy erfenis.
Kan mense, die bose, die dood dit van hom wegneem?
In Romeine 8:38-39 staan: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Nee, God hou die mens en die mens se toekoms in sy hand. Dit is ’n dubbele bewaring.
- De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.