Drie sterk goed aan

‘Dokters is tevrede met haar herstel; hoewel sy al vyf weke lank in ’n koma is,’ sê Steyn Lombard, Marioné van Deventer se pa.

Marione en Sybrand van Deventer.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

“Dit gaan onder die omstandighede goed met Marioné, en dokters is tevrede met haar herstel ná die ongeluk; hoewel sy al vyf weke lank in ’n koma is,” sê Steyn Lombard, Marioné van Deventer se pa.

Die 25-jarige Marioné van Reitz is ernstig beseer toe sy en haar skoonma, Adri van Deventer (50), en Adri se broer, Jaco Oosthuizen (46), in ’n ernstige ongeluk op die pad tussen Daniëlsrus en Bethlehem betrokke was.

Jaco het op 3 September brandbeserings opgedoen toe hy op sy hoewe buite Reitz sy diere met sy trekker na veiligheid probeer aanjaag het weens veldbrande wat daar gewoed het.

Adri en Marioné was met hom na die Mediclinic Hoogland in Bethlehem onderweg toe die motor waarin hulle gery het se band weens ’n yster in die pad beskadig is en dit omgeslaan en teen ’n steil wal af is.

Adri en haar broer is in die Mediclinic Hoogland opgeneem, en Marioné is per lugambulans na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem.

Jaco is vir brandwonde, beenbreuke en rookinaseming behandel.

Adri het verskeie beenbreuke opgedoen – onder meer in haar gesig.

Marioné het erge breinbeserings en verskeie beenbreuke opgedoen en haar hart en longe is gekneus. Sy was swanger en het die baba weens die ongeluk verloor.

Brand van Deventer, Adri se man, het op Maandag 9 Oktober bevestig dat Adri en Jaco uit die hospitaal ontslaan is en goed tuis aansterk.

Marioné werk by Van Zyl-staalwerke in Reitz en haar man, Sybrand, boer en is ’n agent vir Vleissentraal.

  • In ’n verslag deur Johann Breytenbach van die Vrystaatse sambreel-brandbeskermingsvereniging (FSUFPA) wat einde September uitgereik is, het veldbrande in dié brandseisoen reeds groot verwoesting in Clarens, Marquard, Harrismith, Theunissen, Winburg, Brandfort, Senekal, Verkeerdevlei en die Kroonstad- en Steynsrus-omgewing gesaai.

Volgens die verslag is brandskade van ’n algehele oppervlakte van 42 7796,73 ha van 1 Mei tot 18 September in die Vrystaat aangeteken, met die meeste skade in die Brandfort-omgewing.

Verwagte reënval vir die Oos- en Noord-Vrystaat kan moontlik verligting vir die brandgeteiserde gebiede bring. Volgens Rejoice Mohlamme van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein sal reën in die Oos-Vrystaat vandeesweek na die res van die provinsie versprei en lyk vooruitsigte goed vir die volgende twee weke.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.