Drafskoene klap op teer

Dit is nie elke atleet wat sommer die uitmergelende Washie 100 myl-padwedloop in Oos-Londen kafdraf nie, maar ’n Bethlehemiet het die 160 km boonop puik afgelê deur loshande in die vroue-afdeling te wen en ’n algehele vierde plek te behaal.


Dit is nie elke atleet wat sommer die uitmergelende Washie 100 myl-padwedloop in Oos-Londen kafdraf nie, maar ’n Bethlehemiet het die 160 km boonop puik afgelê deur loshande in die vroue-afdeling te wen en ’n algehele vierde plek te behaal.

Die 44-jarige Daleen Cilliers, ’n gebore en getoë Vrystater wat in Bethlehem woon, het haar tweede Washie 100 myl-wedloop saam met 91 atlete uit 102 inskrywings voltooi.

Sy was die wenner in die vroue-afdeling en die vierde atleet wat oor die wenstreep gedraf het.

Cilliers sê om die 160 km te hardloop is vir seker baie uitdagend, maar dit is baie belangrik om jou kop en bene saam te laat werk, asook om jou liggaam se vermoëns te ken.

Sy het die padwedloop in 18:13 voltooi.

Deelnemers het op Vrydagaand 28 Julie weggespring en het 26 uur gehad om die 160 km af te lê. Die roete het by Buffs Club in Oos-Londen geëindig.

“Ek is al my hele lewe lank aktief en by sport betrokke, maar het eers op 30-jarige ouderdom aan marathons begin deelneem – en sedertdien is daar geen omdraai nie,” vertel Cilliers.

“Ek geniet die sportsoort; dit laat my ontspan en dit is lekker om kop skoon te maak. Nie net ontlaai jy só stres nie, dit is ook baie goed vir die gesondheid en gemoed.”

Vanjaar het Cilliers ook haar beste tyd in die Comrades-marathon gehardloop en dié wedloop in 7:50 voltooi.

Sy is deel van die Maluti-multisportklub in Bethlehem en word deur haar man, Ebarnie Cilliers, afgerig. Haar oefenprogram sluit in oefeninge vanaf Maandag tot Donderdag, en dan weer Saterdagoggend. Sy is ook twee keer per week in die gimnasium.

Cilliers was op skool ’n kranige sportvrou wat aan atletiek, landloop, netbal en, op hoërskool, ook aan hokkie deelgeneem het.

Sy het aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem matrikuleer waarna sy haar as kleuterskoolonderwyser bekwaam het.

Sy is die trotse eienaar van haar eie kleuterskool in Bethlehem.

You need to be Logged In to leave a comment.