Dorp treur oor meisie (6)

Die Bethlehem-gemeenskap is in rou gedompel ná die afsterwe van die dapper klein vegtertjie Liza Engelbrecht, wat aan chroniese granulomatose gely het.


Die Bethlehem-gemeenskap is in rou gedompel ná die afsterwe van die dapper klein vegtertjie Liza Engelbrecht, wat aan chroniese granulomatose gely het.

Die sesjarige Liza is op 29 Julie omstreeks 04:50 oorlede weens dié seldsame outo-immuunversteuring wat inflammasie van bloedvate in verskillende dele van die liggaam veroorsaak.

Sy is op nege maande met ’n granuloom (weefselontsteking) in haar long gediagnoseer waarna chroniese granulomatose by haar gediagnoseer is. Weens dié siekte het sy in Januarie ’n beenmurgoorplanting by die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion ontvang om haar gesondheid te verbeter.

Sy het die gemeenskap van haar siekte bewus gemaak en in Maart het mense van Bethlehem in pienk klere aan ’n stapgeleentheid deelgeneem om bewusmaking van haar siekte te skep en om hul ondersteuning te toon.

“Liza was baie lief vir unicorns, die kleur pienk, asook om rokkies te dra, en het dit baie geniet om lekker te kan eet,” sê pa Werner Engelbrecht.

Die Laerskool Jordania, waar Liza ’n leerling was, het op Facebook geskryf: “Dit is met groot hartseer dat ons van die afsterwe van ons mede-Jorrie, Liza Engelbrecht, verneem het. Ons dra vir Werner, Janet, Elyna en die familie aan die Here se troue sorg op en bid dat hulle die troos van die Heilige Gees sal ervaar.”

Liza se roudiens is Vrydag (04/08) om 14:00 op die Lavender Hill-landgoed in Bethlehem gehou.

Sy word oorleef deur haar ouers, Werner en Janet, asook haar tweelingsussie, Elyna, en haar grootouers, Maryna en Paul Porter van Bethlehem en Bettie Engelbrecht van Krugersdorp.

You need to be Logged In to leave a comment.