Dorp spoedig spoggerig

Kroonstad is ’n miernes van bedrywigheid, waar verskeie sakeondernemings, staats­instellings, die munisipaliteit en inwoners hande vat om die dorp op te knap en te verfraai.


Kroonstad is ’n miernes van bedrywigheid, waar verskeie sakeondernemings, staats­instellings, die munisipaliteit en inwoners hande vat om die dorp op te knap en te verfraai.

Dit kom nadat Kroonstad as finalis in die gewilde kykNET-joernaalprogram Kwêla se Dorp van die jaar-kompetisie vir 2022 aangewys is. Die dorp ding met Parys en Clarens om die titel van streekswenner mee, en dié aankondiging sal in Junie gedoen word.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) in Kroonstad het die mannekrag van 20 oudgevangenes wat op parool is en gemeenskaps­diens moet verrig, beskikbaar gestel om opknappings­werk te doen.

Sylvia de Gouveia, lid van die Ignite and Revive-organisasie, het op ’n vergadering by die Moqhaka-munisipaliteit genoem dat opknappings gedoen word, toe Mojabeng Johanna Phele van die DKD, wat ook die vergadering bygewoon het, hulp aangebied het.

“Ons werk lekker saam as ’n span en is dankbaar vir die DKD se hulp met die projek. Mag dié saamwerk vir ander dorpe se inwoners ’n inspirasie wees om ’n verskil in hul direkte omgewing te maak,” sê De Gouveia.

Refiloe Tau, kommunikasie­beampte van die DKD in Kroonstad, verduidelik hoe die samewerking ook verder van waarde is.

“Die oudgevangenes se betrokkenheid by die opruimings­projek is deel van die DKD se doelwit om hulle suksesvol in die samelewing te herintegreer. Dit gee hulle sosiale verantwoordelikheid en help om ’n misdaadvrye lewe te lei.”

Pieter van Rensburg, nog ’n lid van die Ignite and Revive-organisasie, sê hy en ander lede is hoofsaaklik verantwoordelik vir die sentrale sakekern se opknapping en die hulp van die DKD die afgelope twee weke het die taak verlig.


  • Besoek Ignite & Revive Kroonstad se Facebook-blad vir meer inligting oor die projek.

You need to be Logged In to leave a comment.