Dorp se belange op hul hart

Grootskaalse opruiming is deur die Bethlehem-tak van AfriForum begin om die Jordaanrivier, wat onderdeur die N5-hoogweg vloei, skoon te maak.


Grootskaalse opruiming is deur die Bethlehem-tak van AfriForum begin om die Jordaanrivier, wat onderdeur die N5-hoogweg vloei, skoon te maak.

Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek, sê daar is ’n paar uitdagings met die projek, soos die veiligheid van die opruimingspanne.

Die brug is die bymekaarkomplek vir sluipslapers, dwelmverslaafdes en boosdoeners.

Die mense wat daar bly, raak aggressief wanneer die skoonmaakspanne wil opruim. Oor die afgelope naweek moes die plaaslike AfriForum-buurtwag optree teenoor die mense wat die opruimspanne dreig en probeer verwilder.

“Dit is onaanvaarbaar dat die rivier in so ’n toestand is.

“Die koste verbonde aan hierdie soort opruiming is minimaal en die munisipaliteit het daarom geen geldige rede waarom hulle nié die rivier kan skoonhou nie,” meen Ikking.

Die organisasie sal voortaan in samewerking met die plaaslike polisie ’n oog oor die brug hou om te verseker dat boosdoeners nie ’n geleentheid gegun word om misdrywe te pleeg nie.

“Ons wil die gemeenskap verseker dat ons as tak sal voortgaan om die netheid van die dorp te bevorder, en ons sal nie moed verloor wanneer ons voor struikelblokke te staan kom nie,” sê Juandre Gelderblom, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.